Sersant Ghirswin Muller se droom om voltyds in die bediening te staan, is tot niet, maar sy familie berus in die feit dat hy naby God geleef het.

Muller (39) van Piketberg-polisie is Maandag 17 Augustus weens Covid-19-komplikasies oorlede.

AO Silke Louwrens, woordvoerder van Piketberg-polisie het aan Weslander gesê Muller se kollegas is almal uiters geskok oor sy voortydige dood.

Muller was al vir ’n tyd lank siek en het twee keer negatief vir die virus getoets voor hy op 31 Julie in die Mediclinic Paarl opgeneem en daar positief vir die virus getoets het.

Muller was eers op die ventilator in hierdie hospitaal en is daarna op die suurstofmasjien geplaas, waarna hy gesterf het. 

Volgens ’n persverklaring van die Piketberg-polisie het Muller op 23 Mei 2005 by die polisiediens aangesluit en as kommunikasiebeampte asook maatskaplike misdaadkoördineerder in die Piketberg-kantoor.

Hy is in Februarie 2015 uit die polisiediens om heeltyds teologie aan die Universiteit Stellenbosch te gaan studeer. Hy het ook deeltyds veiligheidswerk by die universiteit gedoen om die pot aan die kook te hou terwyl hy studeer. Nadat hy sy graad verwerf het, het hy weer in Februarie 2018 by die Piketberg-polisie in die misdaadvoorkomingseenheid aangesluit. Daarna is hy op die A-skof geplaas waar hy gewerk het tot die tyd van sy heengaan.

“Hy was ’n toegewyde polisiebeampte en het altyd met trots die ekstra myl geloop,” aldus die polisie se verklaring

Sy suster Porcia Muller het aan Netwerk 24 gesê dit was Muller se droom om voltyds in die Christelike bediening te staan. 

“Hy het sy vertroue heeltemal in God se hande geplaas en sy dood was nie verniet nie,” het Porcia bygevoeg.

Die Piketberg-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) het ook Dinsdag 18 Augustus op sy Facebookblad die nuus van Muller se skielike dood bekend gemaak.

“Ons sal jou altyd onthou vir jou diens aan die gemeenskap, in besonder die jeug. Rus in vrede sersant Muller,” lui ’n deel uit die GPF se Facebookplasing.

Muller laat sy vrou Maritza en vier kinders agter.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 10 July 2025
    Weslander E-Edition – 10 July 2025