’n Springkasteel, Kersgeskenke en saamry in ’n brandweerwa met loeiende sirenes.
Dít is maar net ’n paar van die lekkertes waarmee kinders van verskillende Weskusdorpe verlede Woensdag in Saldanha by die polisie se jaarlikse Kerspartytjie getrakteer is.
Daar is, onder meer, vermaak en ook speletjies aangebied deur die departement van sport en kultuur en ’n opvoedkundige tafel van die departement van visserye met verskillende visse, ’n perlemoen en selfs ’n haai wat baie aftrek by die jongspan gekry het.
Een van die hoogtepunte was die bekroonde Redelinghuys Stoftrappers, wat almal met hul Rieldans vermaak het.
Vir middagete is daar worsrolletjies voorgesit, koue koeldrank, water vir die dors en versnaperinge waaraan die kinders deur die loop van die dag kon peusel.
Hierdie bederfdag is deur die polisiestasies in die Vredenburg-groep gereël wat Saldanha, Eendekuil, Hopefield, Laaiplek, Redelinghuys, Langebaan, Piketberg, Porterville, St. Helenabaai en Vredenburg insluit. ’n Handjievol kinders uit elkeen van hierdie dorpe het die partytjie bygewoon.
Die polisie bedank die borge en almal wat gehelp om van die dag ’n sukses te maak.