Twee spanne van die Weskus-polisiedistrik het die afgelope week op ‘n groot hoeveelheid onwettige vuurwapens, ammunisie, towersampioene en tik afgekom.
Polisiebeamptes van Eendekuil was verras oor die inhoud van ‘n motor wat Vrydag 23 Mei by ‘n voertuigbeheerpunt in Hoofweg, Eendekuil, voorgekeer en deurgesoek is.
Volgens kapt. Tania Helfrich, ‘n woordvoerder vir die Weskus-polisiedistrik, kon die bestuurder van die silwerkleurige Pajero nie sy rybewys toon nie. Dit was omstreeks 11:50.
Hulle het toe die voertuig deursoek en ‘n panga en ammunisie op die vloer van die voertuig aangetref. Die ammunisie het na bewering sommer oral in die voertuig rondgelê.
Daarna is ‘n 9 mm-pistool met die reeksnommer afgevyl, onder die bestuursitplek gekry, asook ‘n hoeveelheid tik en towersampioene.
Twee verdagtes, Johannes Joubert (32) en Angelo Brand (19), is vir die onwettige besit van ‘n vuurwapen, ammunisie en dwelms in hegtenis geneem.
Joubert en Brand het Maandag (26 Mei) in die Piketberg-landdroshof verskyn, ook op aanklag van bestuur sonder ‘n wettige lisensie. Hulle is borgtog van R500 elk toegestaan.
Joubert sal volgens Helfrich weer vandag of môre in die hof moet verskyn nadat nóg vuurwapens, ammunisie en plofstof by sy meganiese herstelwerk-onderneming gekry is. Die polisie het ‘n lasbrief verkry om die perseel te deursoek.
In nog ‘n suksesvolle optrede het die Vredenburg-polisie gister (Woensdag, 28 Mei) op nóg ‘n groot klomp onwettige vuurwapens, ook nadat ‘n lasbrief bekom is, afgekom. ‘n Man (69) is in hegtenis geneem. Beslag is gelê op 15 ongelisensieerde vuurwapens, elf vuurwapenlope, ‘n handgranaat, 24 R5-rondes, 13 9 mm-rondes en 60 haelgeweerrondes.
Die beskuldigde verskyn ook vandag of môre in die hof.


