Op Vrydag 21 Julie om 17:20 was ?’n 27-jarige vrou besig om ?’n sakeonderneming op Vredenburg se kontantvloei na te gaan toe twee gewapende rowers die kantoor binnegekom en geëis het dat sy die kontant aan hulle gee. Hulle het ook daarop aangedring dat sy die kluis moet oopsluit. Sy het hierop gesê dat sy nie die kluis se sleutel het nie. Die rowers het haar gedwing om ’n? ander “kasregister” oop te maak waarop hulle al die kontant daarin gevat het. Volgens haar kollegas was daar altesaam sewe rowers in die winkel. Hulle het gehoor dat skote afgevuur word voordat die rowers met sowat R11 367 kontant gevlug het. Niemand is egter in die voorval beseer nie.
Anel Muller (31) is op Vrydag 21 Julie op Riebeek-Wes in hegtenis geneem nadat polisiebeamptes 8,41 kg dagga by haar in die motor gekry het. Sy is by ’n padblokkade voorgekeer. Muller het Maandag in die rondgaande hof op die dorp verskyn.
Die polisie op Hopefield het twee mans op Vrydag 21 Julie omstreeks 12:00 aangekeer nadat hulle twee sakke hout by ’n inwoner van die dorp gesteel het.
Tussen Sondagmiddag en Maandagoggend is R995 se drank by ’n bekende bottelstoor in Klawer gesteel.
’n Twintigjarige man van Langebaan is op Vrydag 21 Julie om 10:00 naby Laguna Mall beroof. ’n Kennis het verby die klaer gery en wou hom in sy voertuig dwing, maar het dit net reggekry om die klaer se beursie en silwer ketting te gryp voordat hy weggejaag het.
Die volgende dag, Saterdag 22 Julie, is ’n 22-jarige motoris in Langebaan om 11:00 met ’n mes gesteek nadat hy ’n voetganger gevra het of dié man weet waarheen hy gaan. Die aanvaller het probeer om die klaer uit sy voertuig te ruk, die klaer het terugbaklei en is toe met? mes in die arm gewond. Die klaer het daarin geslaag om die booswig uit sy voertuig te druk en kon van die toneel af wegvlug.
’n Man van Vredenburg is Sondagoggend om 00:30 in die regterheup geskiet nadat hy en twee ooggetuies in Watsoniastraat in Louwville geloop het. Ses mans het hulle genader en hul beursies en selfone geëis. Die slagoffers het die artikels vir die rowers gegee en is toe aangesê om weg te hardloop. Terwyl die 31-jarige man en sy vriende egter weggehardloop het, is daar op hulle geskiet en die man in sy regterheup gewond.
Twee mans, onderskeidelik 31 en 27 jaar oud, het Maandag in die Malmesbury-landdroshof verskyn nadat hulle Saterdagmiddag probeer het om ’n verkeersbeampte met R300 om te koop omdat die bestuurder van die motor nie ?’n rybewys kon toon nie.
In Malmesbury is ’n 50-jarige man Sondag om 19:25 noodlottig in die linkerkant van sy nek gesteek. Hy is op die toneel dood. Na bewering het die oorledene by die ingang van ’n winkel in Bokomo-rylaan gestaan toe twee mans hom nader. Die oorledene is deur een van die mans met ’n? skerp voorwerp gesteek voordat hulle van die toneel gevlug het. Die oorledene is met sy aankoms by die hospitaal dood verklaar.
’n Saak van brandstigting en poging tot moord word in Vredenburg ondersoek nadat Felia Masingi (25) Donderdag in die vroeë oggendure ’n plakkershut aan die brand gesteek het. ’n ?Vrou, ook 25 jaar oud, het brandwonde opgedoen. Masingi het Maandag in die Vredenburg-landdroshof verskyn.