Planne as kinders Jan Tuisbly se karretjie ry

Die Desembervakansie is byna hier. Weslander deel ’n paar wenke vir ouers én kinders om besig te bly.. Begin in die kombuis.


Die Desembervakansie is byna hier. Weslander deel ’n paar wenke vir ouers én kinders om besig te bly.

. Begin in die kombuis

Kinders en tieners kan help in die kombuis deur te bak en brou veral voor Kerstyd.

Bak-en-brou-aktiwiteite sal volgens kinders se ouder­dom aangepas word. Kleiner kinders kan basiese take soos meng, roer en koek­drukkers gebruik bv. vir daar­die Kerskoekies. Ouer kinders kan kombuis­gereedskap soos voedselverwer­kers en elektroniese mengers onder toesig hanteer. Die internet is vol flink, skeppende en maklike kosidees. Span die kinders in om selfs met groter maaltye te help. Hulle kan selfs hul gunsteling­geregte maak. Lasagne of tuisgemaakte pizza is altyd gewild onder die kleinspan, tieners én groot­mense.


. Wees ’n toeris

Dikwels is ons genieg om “nuwe wêrelde” te verken, maar waarom nie die Weskus-streek besoek nie.

Besoek ’n dorp in die omge­wing soos byvoorbeeld Hope­field en leer meer oor sy bye of gaan loer in by Laaiplek se museum en leer meer oor die visbedryf of gaan kyk na die sonsondergang in St. Helena­baai. Elke dorp het sy eie mense en geskiedenis met baie skatte wat wag om ontgin te word. Weskussers mag dalk dink hulle ken al die hoekies en draaitjies van hul buurdorpe, maar gaan verken die vakansie­tyd ’n nabye dorp of ander munisipale gebied.

Wees só ’n toeris in jou eie streek. Gebruik die internet of jou plaaslike biblioteek om meer oor die besienswaardighede in jou streek uit te vind. Daar is baie Weskus-juwele om te besoek soos die Weskus Nasionale Park in Langebaan, leer meer van die Khoi-San by ! Khwa ttu langs die R27 of gaan koop ’n paar bokkoms in Bokkomlaan in Velddrif.


. Maak iets kreatief

Gee kinders se hande werk deur kreatiewe projekte aan te pak. Kry kryt, kleurpenne en papier en maak vanjaar jou eie Kersversierings vir die boom.

Vat ou klere en gee hulle nuwe lewe met tie dye, wat sommer in die agterplaas gedoen kan word.

Nooi ’n paar maatjies en dan het almal ’n nuwe, prettige kledingstuk vir die vakansie (wat ouers ook ’n paar rand sal spaar).

Maklike projekte om aan te pak, is produkte soos boekmerke, papierblomme en juweeltjies met krale.

Papier-maché is ook altyd ’n wenner en ’n goeie manier om jou ou Weslander te herwin. Handwerk kan ook as geskenke uitgedeel word. Die projekte sal ook die kinders se oë weg van hul skerms kry.

You need to be Logged In to leave a comment.