’n Jong ruiter, Jaundré Strydom (18), het pas naam gemaak toe sy as die nommereenruiter in haar klas by die onlangse nasionale Junior Elementêre Dressuur-kompetisie geëindig het.
Jaundré, ’n voormalige Weslander en Super Sport Let’s Play-maandwenner, het Saterdag 7 Julie aan die nasionale kompetisie deelgeneem. Sy het as lid van die Wes-Kaapse span haar mededingers uit Gauteng, die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal uitgestof.
Volgens Elmarie de Clerck, Jaundré se afrigter en een van haar grootste ondersteuners, was dit ’n wankelrige begin vir Jaundré en Algrande Midnight Sensation, maar ruiter en perd het vinnig ná die opwarmingsronde oor hul senuweeagtigheid gekom.
Die Vredenburgse tiener het begin perdry nadat De Clerck haar talente raakgesien het toe haar stiefpa, Sharief Doovey, by De Clerck se perdryskool, Equestrian Centre in Trekoskraal, gewerk het.