Walvisbaai se eerste restaurantboot is op die Weskus gebou.
Die Cynthia, wat deur WB Cruise in die Namibiese stad uit die Waterfront bedryf sal word, is deur Tallie Marine in St. Helenabaai vervaardig.
“Nege maande, dit is hoe lank dit gevat het van die eerste pen in die grond geslaan is, tot die boot se bekendstelling,” sê Donna Tallie, woordvoerder van Tallie Marine, oor hoe lank dit gevat het om die boot te bou.
Hierdie is die eerste ten volle toegeruste en funksionele restaurantboot wat Tallie Marine gebou het.
Die Cynthia was Saterdag 22 Oktober die eerste keer oop vir besigheid.
Daar word elke middag middagete bedien, met die boot wat saans na Pelican Point reis, betyds om aandete met ’n sonsondergang te geniet.
Troues en ander funksies kan ook op die boot gehou word.
Tallie Marine hoop die boot kry die besigheid se handelsmerk uit, spesifiek aangaande pasgemaakte bote.
Volgende op die maatskappy se kerfstok is sy grootste vaartuig nog, ’n boot van 100 voet.
“Tot op hede het ons al drie vaartuie van 90 voet vervaardig, so hierdie sal ons grootste een nog wees,” seg Tallie.
Daar word verwag dat die boot middel 2017 reg sal wees vir die waters.
Benewens nuwe groot projekte, het Anton Tallie, grootbaas van Tallie Marine, onlangs sleutels oorgegee aan sy seun Antonie Tallie, ’n gekwalifiseerde meganiese ingenieur, om oor te neem as besturende direkteur van die maatskappy.
Anton is egter nog glad nie reg vir aftree nie, en volgens Donna bly hy ’n “integrale deel” van die maatskappy.
“Dit bly business as usual by Tallie Marine.”