Die MasterChef SA-deelnemer Didi Stols in die MasterChef-kombuis.


MasterChef South Africa is terug op die kassie vir ’n vierde reeks en speel in die V&A Waterfront af.

MasterChef SA is een van die gewildste televisie-kosprogramme nog en in hierdie seisoen het Didi Stols, ’n kunsafslaer van Langebaan, ’n geloofsprong geneem en besluit om deel van die kompetisie te word. Sy is as een van die top-20-deelnemers gekies.

Die dag toe sy die oproep kry, vertel Didi, het sy dit glad nie verwag nie.

“Daar is so ’n hoë kaliber van talent in die land dat ek half nie kon glo dat ek gekies is nie.”

Didi vertel dat MasterChef reg van die begin af realiteittelevisie op sy eerlikste is. “Wat jy sien, is wat jy kry. Wanneer ons voor hulle staan en die uitdaging word gegee, moet ons dadelik begin. Ons het geen resepteboeke nie en al jou idees en resepte moet in jou kop wees; jy moet letterlik op jou voete dink,” vertel sy.

Didi sê sy het nog altyd ’n liefde vir kos. Sy het besluit om in te skryf nadat vriende haar aangemoedig het en die skakel tot die MasterChef-webtuiste aangestuur het.

Sy het al in haar kinderjare met kos begin eksperimenteer en was in beheer van die etes in haar huis. “My ouers het my die kosbegroting gegee en ek kon self bestanddele kies. Ek het idees voorberei en so begin kos maak.”

Didi bieg dat haar gesin wel partykeer baie “floppe” geëet het.

Jare later bevind Didi haar in die beste kombuis denkbaar.

Sy vertel van haar hoogtepunte sluit in om met die wonderlike sjef-gasbeoordelaars te kon werk.

Didi sê Nelson Mandela se woorde “It always seems impossible until it’s done”, was haar mantra.

“Wanneer dit by die uitdagings gekom het, het dit partykeer gevoel asof ek dit nie gaan maak nie, maar as jy weer sien, het jy dit gemaak en kon jy dit doen.”

Didi moedig ander aan om vir MasterChef in te skryf.

“Jy leer so baie oor jouself; meer oor jou swakpunte en sterkpunte.

“Dit is ’n plek vir ongelooflike persoonlike groei. Dit gee jou ook ekstra selfvertroue in die kombuis en jy leer so baie van ander.

“Gee jouself ’n kans!”

You need to be Logged In to leave a comment.