Ray van Rooy, die burgemeester van die Bergrivier-munisipaliteit asook die wykskomiteelid van wyk 4, het besluit om lewende legendes te vereer.

Die geleentheid het op Vrydag 26 September in die Piketberg-gemeenskapsaal plaasgevind.
Volgens Van Rooy het die gedagte ná die begrafnis van ‘n oud-rugbyspeler ontstaan. Hy sê die doel was om almal wat Piketberg voor eenwording verteenwoordig en nooit erkenning ontvang het nie, te vereer.
“Hier praat ons van mense wat vir die Rangers-rugbyklub, die Piketberg-
krieketklub asook die Flames-, die Rangers- en die Young Ideas-netbalklub gespeel het. Hierdie klubs het hul sport onder moeilike omstandighede beoefen. Hulle het deelgeneem waar verskillende rasse nie teen mekaar kon meeding nie en met min of gebrekkige sportgeriewe geoefen. Hulle word vereer omdat hulle toegesien het dat sportontwikkeling lewend gehou word,” sê Van Rooy.
By die geleentheid is ook hulde aan voormalige Saru-Sacos-spelers van die Boland, die Westelike Provinsie, die Swartwes-distrikte, WP Platteland en Cities gebring.


