Pienaar se sopkombuis vier vyf jaar

Dit is vir Cheryl Pienaar ’n groot mylpaal dat haar voedingskema vanjaar die mylpaal van vyf jaar gehaal het.


Dit is vir Cheryl Pienaar ’n groot mylpaal dat haar voedingskema vanjaar die mylpaal van vyf jaar gehaal het.

Sy het Pienaars-voedingskema in die jaar 2019 in White City gestig met die doel om ander te help. “Ek het die sopkombuis begin omdat ek ’n passie daarvoor het en omdat dit baie sterk op my hart gelê het dat ek die gemeenskap se kinders en bejaardes moet voed,” vertel sy.

Die sopkombuis het op Dinsdag 19 November sy vyfde bestaansjaar gevier in geen ander styl as om terug te ploeg in die gemeenskap nie.

Pienaar deel elke Dinsdag en Donderdag kos uit en op die ander dae deel sy pap uit, veral vir die kinders sodat hulle met vol magies die dag kan aanpak. Pienaar skat dat meer as 250 kinders en 25 bejaardes elke week die sopkombuis besoek.

“Wat vir my uitstaan is die feit dat dié kinders wat dwelms gebruik my op ’n Woensdag een keer per maand besoek en op my stoep sit, waar ek vir hulle drie maaltye voorsien. Dit gaan nie net oor die maaltye nie, maar oor die tyd saam ook. Ek sit en gesels met hulle en verskillende sprekers bemoedig hulle ook.

Hulle vertel my gereeld dit wat ek doen is nie vergeefs nie en hulle sien die mooi dinge raak. Waarna ek uitsien is om te kyk hoe hulle uitblink, daar is van hulle wat ’n verandering ondergaan het deur wat ek doen,” vertel Pienaar.

Pienaar meen alles wat sy bereik het tot dusver is net die hand van die Here. Sy bedank die span wat saam met haar werk asook Debonairs Saldanha vir die skenking van pizzabroodjies elke week.

You need to be Logged In to leave a comment.