Suid-Afrikaners gaan in Mei vir die vierde opeenvolgende maand die stygende Brent-ruolieprys en swakker rand aan hul sak gevoel.
As ekonome en markontleders in die kol is met hul voorspellings is dit nog lank nie die laaste styging waarvoor motoriste vanjaar gaan moet opdok nie.
Bloomberg berig ekonome soos John Payne en Gabriel Sterne, wat ekonomie by die Universiteit van Oxford doseer, meen daar is ’n goeie kans dat die olieprys vir die res van die jaar kan aanhou styg.
Olie verhandel teen ongeveer $71 per vat. Dit is reeds sowat 31% méér as die $54,14 waarteen dit op 1 Januarie vanjaar verhandel het. Dit is juis dié styging wat maak dat Suid-Afrikaners van 1 Mei af met die tweede hoogste petrolprys ooit te doen gaan kry.
Die departement van energie het op 28 April aangekondig die prys van 95-oktaan-petrol styg landwyd op 1 Mei met 54c. Dit kom ná die enorme styging van R1,31 per liter in die binneland in April. In dié geval het duurder olie 78c en die swakker rand 30c tot dié styging bygedra.
Die res was twee nuwe plaaslike tariewe wat in werking gestel is. Wat betref die petrolprys in Mei het die departement van energie die styging in sy totaliteit voor die deur van duurder Brent-ruolie gelê. Net vanjaar betaal Suid-Afrikaners in die binneland al R2,69 per liter méér vir 95-oktaan-petrol. – Netwerk24