Die daling in Suid-Afrikaanse brandstofpryse in Desember is straks net ’n tydelike gelukkie.
Oliepryse het Maandag 3 Desember met 5% gestyg in reaksie op die ooreenkoms tussen Amerika en China dat hoër Amerikaanse invoertariewe teen $200 miljard se Chinese produkte eers op die lange baan geskuif word.
Minder spanning tussen die twee ekonomiese reuse beteken meer geleentheid vir ekonomiese aktiwiteite, wat die vraag na olie sal laat styg.
Verder het die Kanadese provinsie Alberta besluit om olieproduksie met 325 000 vate per dag te sny, en Rusland en Saoedi-Arabië het die naweek ooreengekom om nouer saam te werk om olieproduksie te sny sodat die pryse kan herstel.
Brent-ruoliepryse in Londen was Maandag 4,59% hoër op $62,19 per vat. Dit het die afgelope maand stelselmatig van meer as $70 per vat tot onder $60 gedaal. Al wat die oliepryse teruggehou het, was Katar se aankondiging dat hy hom aan die Organisasie van Petroleumuitvoerlande (Opul) wil onttrek om op aardgas te fokus.
Petrolpryse is Woensdag in Suid-Afrika met R1,84 per liter verlaag.
As oliepryse herstel, kan brandstofpryse vroeg in 2019 weer styg. – Franscois Williams, Netwerk24