‘n Petisie is begin om die berugte Jacobsbaai-kruising te beveilig ná vier vroue hul lewens Woensdagaand in ‘n ongeluk daar verloor het.
Dié petisie, getiteld Genoeg is genoeg – beveilig die Jacobsbaai-kruising., is deur ene Sharon de Beer begin, en verduidelik hoe die kruising al talle lewens geëis het.
“Voorsorgmaatreëls vir die kruising is van ‘n swak gehalte of bestaan nie,” seg De Beer se verduideliking in die petisie, wat op change.org beskikbaar is.
Talle mense het op sosiale media gekla oor die onveilige kruising en wat gedoen kan word om dit te beveilig.
Die petisie is gerig aan Saldanhabaai-munisipaliteit, die Wes-Kaapse regering, asook Western Province Road Maintenance.
Die vier vroue is glo almal kollegas, hul name is nog nie deur die polisie bekend gemaak nie.
Volgens Saldanha-polisie het ‘n Toyota Corolla, met vyf insittendes, teen ‘n Jeep Cherokee, met een insittende, by die kruising gebots. Slegs die bestuurders van beide voertuie het oorleef.
Ná bewering het die Cherokee, wat op pad was van Langebaan na Jacobsbaai, nie by die kruising gestop nie, sê Saldanha-polisie.
Die Corolla was van Vredenburg na Saldanha onderweg.
‘n Saak van strafbare manslag word ondersoek.