Marvin Summers van Paternoster word van agter deur twee Young Hearts-verdedigers ingehardloop. Foto: David Rossouw

Ondanks ‘n inspirerende vertoning deur Paternoster, het swak dissipline dié span in ‘n opwindende wedstryd duur te staan gekom toe Young Hearts van Pella hom 29-24 geklop het. Paternoster kon nietemin ‘n waardevolle bonuspunt opraap.

Die wedstryd het ná ‘n paar goeie bewegings deur beide spanne weens ongedwonge foute teleurgestel.

Hearts is ‘n vasteskrum toegeken en die bal is wyd gespeel – na Ashwin Solomons, wat sy eerste drie gaan druk het.

Tirique Marais het verdoel en sy span met 7-0 laat voorloop.

Paternoster het ná ‘n paar aanvalle teruggeslaan toe sy heelagter vlymskerp van agter af aangesluit, ‘n fopbal raakgevat, ‘n gaping gevind en in die regterhoek gaan druk het. ‘n Suksesvolle doelskop het die telling gelyk gemaak, met 7 punte elk.

Met die momentum aan sy kant, het Paternoster nog ‘n kans gehad om voor te loop, maar sy stelskopper het met ‘n strafskop skeef gekorrel.

Young Hearts het Paternoster se vroeë greep op die wedstryd gebreek en met goeie possionele spel deur Marais twee strafskoppe en ‘n drie deur Barry Adonis behaal om 18-7 voor te loop.

Paternoster het teruggeveg met teenaanvalle wat vrugte afgewerp het.

Volgehoue druk het tot ‘n losskrum gelei en ‘n drie en doelskop het sy agterstand na 18-14 laat krimp.

Net voor rustyd het Paternoster amper nog ‘n drie gedruk, maar Young Hearts se goeie verdediging het gehou en die manne het op 18-14 gaan stoom afblaas.

Young Hearts het die tweede helfte met beter balbesit begin. Twee strafskoppe het sy telling tot 24-14 verhoog.

Paternoster het daarop met ‘n strafskop en ‘n pragtige drie deur Ethan Snyders reg onder die pale geantwoord. Dit is deur Hillford Clarke verdoel om die telling 24 elk te maak.

‘n Geelkaart aan Nkosinathi Mgalbelo het egter Paternoster se momentum gebreek; so ook ‘n rooikaart aan Conell Hendricks vir gevaarlike verdediging op ‘n Hearts-speler.

Daarna het Hearts se Gilmore die bal netjies by ‘n vasteskrum ingerol en agter opgetel – net vyf meter van Paternoster se doellyn af – en die agterlyn gevoer vir Barry Adonis se tweede drie en ‘n voorsprong met die telling 29-24.

Paternoster het die laaste minute alles gegee, maar Young Hearts se goeie verdediging was weer eens standvastig.

Young Hearts het dus die kragmeting 29-24 gewen.

“Net swak dissipline het ons gekelder, maar dit kon met enige span op die dag van die wedstryd gebeur het,” het Paternoster se afrigter, Adrid van Hooi, gesê.

Uitslae:

• Weskus: Langebaan 31-37 Saldanha, Velddrif 26-25 St. Helena, Young Hearts 29-24 Paternoster, Piketberg 51-26 Goedverwacht en Vredenburg 59-20 Steenberg’s Cove.

• Swartland: Saron 37-30 Darling, Never Despairs 19-43 Wesbank, Riebeeck United 36-33 Abbotsdale, Moorreesburg 37-31 Goodhopes en Mamre 48-20 Porterville.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 10 July 2025
    Weslander E-Edition – 10 July 2025