Pastoor in huisrooftog gewond

Die gemeenskap van Langebaan is geskok en in ongeloof ná ’n skietvoorval Saterdagoggend (28 September) vroeg by Laguna Sands waarin ’n bekende gemeenskapsleier, pastoor Leon Cronjé (48), gewond is.


Die gemeenskap van Langebaan is geskok en in ongeloof ná ’n skietvoorval Saterdagoggend (28 September) vroeg by Laguna Sands waarin ’n bekende gemeenskapsleier, pastoor Leon Cronjé (48), gewond is.

Die voorval het omstreeks 01:30 plaasgevind toe twee vermeende rowers glo deur die braaikamer van die Cronjés se huis toegang verkry het.

Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder vir die Weskus-polisiedistrik, is die man tydens die huisrooftog in die linker-ribbes geskiet. “Die klaer se vrou se handsak en hul selfone is gebuit. Dit blyk dat die rowers te voet was,” het Helfrich gesê.

Volgens Carla Lease, ’n inwoner van Langebaan en direkteur van South African Women Mobilizing asook lid van People’s Movement for Change, het die voorval kommer gewek oor die stygende misdaadsyfer in die gebied, die polisie se beweerde gebrek aan optrede en raadslede se pogings om die kwessie af te maak.

“Dit word ondraaglik – eers ’n moord wat toegesmeer is en nou wrede gewelddadige inbrake. Ons sien nou meer ’n toename in inbrake, rooftogte en nou ook skietvoorvalle.”

Lease meen die skietery het die gemeenskap aangewakker, met baie wat groter aanspreeklikheid van wetstoepassers en plaaslike owerhede eis. “Ons doen ’n beroep op die polisie om onmiddellik op te tree en die oortreders voor die hof te bring. Ons doen ook ’n beroep op ons raadslede om op te hou skuil en die misdaadepidemie direk aan te pak.”

Weslander het uitgereik na ’n lid van Cronjé se kerk vir kommentaar. By terugvoering is aangedui dat die familie nie in hierdie stadium met die media wil praat nie.

Lee Matthews, die voorsitter van Team Langebaan-buurtwag, wou ook nie verder oor die voorval uitbrei nie, maar het gesê die buurtwag het ’n kritieke rol gespeel met die soektog na die verdagtes.

Matthews het gesê hulle het al hul hulpbronne ingetrek en met die hulp van ‘n naburige buurtwag was drie hommeltuie in die lug, asook drie hand termiese kameras en ongeveer 16 man op die grond.

Vir inwoners se veiligheid raai Matthews hulle aan om hul vensters saans toe te maak, ’n alarm te installeer en om waaksaam te wees ten alle tye.

You need to be Logged In to leave a comment.