Pasop vir ’n goed gemanierde man wat homself as ’n polisiekaptein voordoen.Foto:


Pasop vir ene Jacques Potgieter, kwansuis ’n polisiekaptein van Durbanville, wat verblyf bespreek en nooit betaal nie.

Dit kom voor of die besprekings wat gemaak word uiteindelik net ’n rookskerm is om lugtyd te steel.

Volgens Tania Helfrich, ’n regte polisiekaptein en woordvoerder van die Weskus-polisiedistrik, is verskeie klagtes uit onder meer Langebaan en Velddrif al oor dié “kaptein” en sy slenter ontvang.

Sy modus operandi is om vir ’n paar van sy polisiekollegas plek te bespreek en dan die slagoffer herhaaldelik te bel om kastig verdere reëlings te tref met betrekking tot noodsaaklikhede vir sy kollegas gedurende hul verblyf. Hy dring ook glo daarop aan dat die faktuur vir die verblyf gou na sy brigadier aangestuur word vir betaling.

Die man klink na bewering goed gemanierd en professioneel oor die foon. Hy is ook baie oortuigend. Hy vra uiteindelik, wanneer die slagoffer se vertroue gewen is, vir ’n guns dat lugtyd vir sy kollegas gekoop word en beloof om hierdie geld ook saam met die verblyfgeld te betaal. Dan vra hy dat pinnommers vir die lugtyd aan hom gestuur word. Natuurlik is die kaptein daarna nêrens te vinde nie.

Helfrich sê die telefoonnommers en magsnommer wat hy verskaf wanneer hy die besprekings maak, bestaan nie. Hy volg ook nie die polisie se beleid wanneer dit by die bespreking van verblyf vir polisiebeamptes kom nie.

Die naam Jacques Potgieter kan heel waarskynlik ook ’n alias wees.

Helfrich nooi inwoners uit om enige ander soortgelyke voorvalle by hul naaste polisiekantoor aan te meld.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 10 July 2025
    Weslander E-Edition – 10 July 2025