‘Pasop vir ongewone getye’

Volmaan aan die Weskus beteken springgety met die gepaardgaande ekstra hoë hoogwater- en ekstra lae laagwater.


Volmaan aan die Weskus beteken springgety met die gepaardgaande ekstra hoë hoogwater- en ekstra lae laagwater.

Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), die polisie en die nooddienste doen ’n beroep op swemmers, bootvaarders, roeiers, matrose, kushengelaars en stappers om versigtig te wees naby die kuslyn met die volmaan-springgety wat vanaand (Donderdag 17 Oktober) ’n hoogtepunt bereik.

Daaglikse hoogwater is hoër en laagwater is laer as gewoonlik weens die gravitasie-effek wat die maan op die aarde het. Dit is reeds merkbaar en sal in intensiteit na vanaand se kant toeneem, waarna dit geleidelik in intensiteit sal afneem tot die einde van die komende naweek.

Craig Lambinon, ’n woordvoerder vir die NSRI, het beklemtoon dat springgety ’n potensiële gevaar veral tydens die uitgaande laagwatergetye inhou.

“Strandbesoekers moet egter maar te alle tye versigtig wees. Wees bedag op strandstaproetes wat tydens hoogwater afgesny kan word en bly bewus van rowwe seetoestande, veroorsaak deur die stertkant van winterstorms en laat kouefronte.”

Volg die SA Weerdiens se daaglikse voorspellings en hou die daaglikse getyrooster in Weslander se weeklikse uitgawe byderhand om op hoogte te bly van die laagwater- en hoogwatertye.

Lambinon het ook gesê bootvaarders, roeiers en matrose moet hul reddingsbaadjies dra wanneer hul vaartuig ter see is en ook die gratis NSRI SafeTrx-slimfoontoepassing aflaai en gebruik.

Hy het ook aangeraai dat kinders te alle tye onder volwasse toesig by die see moet wees.

You need to be Logged In to leave a comment.