Vooruitsig Primêre Skool in Darling het verlede Donderdag (12 Junie) ‘n pa-en-seun-byeenkoms aangebied. Die geleentheid was daarop gemik om die belangrikheid van mentorskap en ouerbetrokkenheid te beklemtoon. Seuns sonder ‘n vaderfiguur is deur hul ma’s vergesel.
Volgens André Dirks, die organiseerder, is leiers volop in die gemeenskap, maar mentorskap is skaars. Daarom het die skoolbeheerliggaam (SBL) die inisiatief geneem om hierdie verhouding te versterk. Dirks beklemtoon dat pa’s dikwels terugstaan wanneer dit by hul seuns se ontwikkeling kom, terwyl hul ma’s aktief betrokke bly.

“Sport het die unieke vermoë om mense te verenig en daarom is dit as ‘n sleutelplatform gebruik om gemeenskapsverhoudings te versterk,” verduidelik hy.
Die projek is geïnspireer deur die Christelike organisasie Living Ball, wat sport as medium vir ontwikkeling gebruik. Dirks beklemtoon die belang-rikheid van ouerbetrokkenheid en moedig pa’s aan om ‘n aktiewe rol in hul seuns se lewe te vervul.
Archie Mbhele, SBL-voorsitter, ‘n gemeenskapsleier, het die inisiatief geprys en beskryf dit as ‘n klein saadjie wat kan groei en hegte verhoudings tussen pa’s en seuns kan skep.
AK Warnick, wyksraadslid het die betrokkenheid van die SBL geprys en aangekondig dat die Swartland-munisipaliteit binnekort ‘n soortgelyke projek van stapel sal stuur.
Frana Cillie van Living Ball beklemtoon dat ‘n vaderfiguur ‘n sleutelrol in ‘n seun se ontwikkeling vervul en ‘n sterk waardestelsel en geloofslewe ‘n positiewe invloed het.
Die gasspreker, Morgan Sambaba van die Fatherhood Foundation of South Africa, het sy persoonlike ervaring gedeel en die kritieke rol van ‘n vaderfiguur verduidelik. “ ’n Pa se invloed lê in sy stem – dit bepaal hoe ‘n seun respek en gesag ervaar, maar ook hoe hy sy karakter as toekomstige gesinsleier vorm,” sê hy.
Sambaba het ook gesê dat hy, in samewerking met die Fatherhood Foundation of South Africa onder leiding van Zane Meas – bekend as Neville Meintjies van die sepie 7de Laan – ‘n bewusmakingsveldtog in Vredenburg sal aanbied.
Die verrigtinge begin op 4 Julie met ‘n manne-aand, gevolg deur ‘n pa-en-seun-aand. Dit sluit op 6 Julie af met ‘n familiediens by die Sharon Pentecostal Ministries. Die veldtog is daarop gemik om vaderlike betrokkenheid te bevorder en mentorverhoudings binne gemeenskappe te versterk.
Die byeenkoms is afgesluit met ‘n gebed, waarna verversings aan pa’s, ma’s en kinders voorsien is.



You must be logged in to post a comment.