Twee Weskus-families is in rou gedompel nadat twee mans die afgelope naweek verongeluk het –vermoedelik nadat hulle in afsonderlike ongelukke kilometers uit mekaar beheer oor hul voertuie verloor het.

In die eerste voorval het Wian Jooné (31) Vrydagaand 28 Julie omstreeks 19:35 op die N7-Klawerpad verongeluk.

Jooné, ’n produksiebestuurder by Die Groene Oase-groente- en vrugtewinkel in Klawer, is op die toneel dood.

Sy vrou, Jacki, het op Facebook gesê Jooné was ná ’n plaaswagvergadering op pad huis toe. Die ongeluk het 2 km van die huis af gebeur.

“Ons weet nie presies wat fout gegaan het nie, maar ons weet hy is nou by Jesus, besig om seker lang stukke met almal te gesels, grappies te maak en natuurlik met sy mooi dogtertjie te spog.”

Die Joonés het ’n babadogtertjie, Liela.

Jacki het in ’n gevoelvolle huldeblyk geskryf dit is vir haar moeilik om te aanvaar dat hy weg is en dat sy ’n nuwe dag sonder hom moet ingaan. “Hoe aanvaar ek dat jy en Liela nooit weer saam hier op aarde sal dans nie? Hoe aanvaar ek dat die drome wat ons saam gedroom het, nou saam met jou weg is?”

Sy beskryf hom as ’n ongelooflike mens wat oor berge sou stap vir sy mense – selfs vir vreemdelinge. Hy was “die ou op wie se knoppie enigiemand altyd kon druk”. “Ons het elke dag saam gelag, baie keer saam gehuil, drome gedroom en planne gemaak. Wat ’n massiewe voorreg om jou vrou te kon wees. Rus sag by Jesus. Tot ons mekaar eendag weer sien.”

In die ander voorval ondersoek die polisie in Lutzville ook ’n saak van strafbare manslag nadat André Januarie (20) Saterdagoggend 29 Julie verongeluk het.

Hy was omstreeks 01:45 op die R365-Strandfonteinpad tussen Lutzville en Vredendal op pad toe hy ook vermoedelik beheer oor sy voertuig verloor het. Hy het ernstige beserings in die ongeluk opgedoen en is later die dag in ’n hospitaal in Vredendal dood.

Januarie is ’n oud-leerder aan Vredendal Senior Sekondêr.

Sy mense beskryf hom op Facebook as “een van die goeies” en ’n dierbare vriend.

Die polisie ondersoek in beide gevalle sake van strafbare manslag, die prosedure wat normaalweg gevolg word wanneer mense in ongelukke sterf.

You need to be Logged In to leave a comment.