’n Groot man met ’n ewe groot hart wat vir die mense ná aan hom – sy gesin, sy familie en die lede van sy motorfietsklub – ’n anker teen die lewe se storms was.

Paul Pretorius (47), die klubpresident van die Megaforce Weskus-motorfiets­klub en die Kaapse Streekpresident van Megaforce Suid-Afrika, het Saterdag 15 Februarie naby Klawer met sy motorfiets verongeluk.

Hy is ernstig beseer toe hy omstreeks 17:15 met sy motorfiets om ’n draai teen ’n aankomende motor se bestuurskant gebots het.

Noodpersoneel was vinnig op die toneel en het bykans ’n uur lank probeer om Pretorius te red, maar dit was tevergeefs. Hy het gesterf met sy seun, Paul Jnr. Pretorius (23), en van die klub se bestuur en ander lede om hom. Die botsing het net 500 meter van hul bestemming by die Nama Bike Camp naby Klawer gebeur.

Nog ’n lid van die klub, Edward Kruger, het ook geval as gevolg van die ongeluk en sy motorfiets is afgeskryf, maar hy is ongedeerd.

Pretorius se dood is ’n geweldige verlies vir die motorfietsrywêreld aan die Weskus. Hy het sentraal gestaan om die klubs in die Weskus te herenig en het oral waar hy gegaan het, vriendskapsbande gesmee.

Paul was nog klein toe sy ouers van Pretoria na De Doorns naby Worcester getrek het, en hy het matriek aan die Hoërskool Drostdy in Worcester voltooi.

Vir sy vrou, Emmy Pretorius (45), is dit ’n geweldige slag. Hulle twee was onafskeidbaar nadat hul paaie 27 jaar gelede gekruis het. Hulle is in 2001 getroud en die gesin het in Junie 2011 Velddrif toe getrek, waar Paul PePe Motors in Kerkstraat geopen het.

Hy het vir ’n paar jaar in Afrika gewerk en met sy terugkeer in 2019 het hy The Works Automotive, ’n werktuigkunde-onderneming, in Vredenburg geopen en die gesin het daarheen verhuis.

Paul het tussen 2021 en 2023 ook aan ovaalbaanwedrenne by die Weskus-ovaalbaan in ’n Ford Sierra in die “Heavy Metals”-klas deelgeneem.

Die egpaar se twee kinders, Paul Jnr. en Lize-Mari (21), is verpletter, want hul pa was hul held en rolmodel. Hulle het albei aan die Hoërskool Hopefield gematrikuleer, waar Lize-Mari vandag werk.

Sy onbaatsugtige liefde vir Emmy, hul kinders, hul familie en die lede van sy klub sal Emmy altyd bybly. “Hy was net só ’n goeie mens. Hy sou sy lewe vir ons gegee het – ons was sy álles gewees.”

Vir Gerrie Pieterse, die voorsitter van die Weskus-motorfietsvereniging, was Paul ’n groot aanwins sedert hy sowat ’n jaar gelede as ondervoorsitter verkies is. “Hy was ’n man op wie se woord staatgemaak kon word, met groot insae in die plaaslike motorfietsklubs. Sy impak en leierskap het nie net in sy eie klub nie, maar in die hele motorfietsgemeenskap respek afgedwing – sonder dat hy probeer het.”

“Ons gaan sy insae, logika en geselskap baie mis. Ons harte gaan uit na sy familie en ons glo dat God se genade oor hulle sal wees,” het Pieterse gesê.. Begrafnisreëlings word nog getref en besonderhede daaroor sal op Megaforce Weskus se Facebook-blad gedeel word.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 18 December 2025
    Weslander E-Edition – 18 December 2025

Gift this article