Pa geskiet in gyselaarsdrama

‘n Gyselaarsdrama van byna ses ure het Vrydagmiddag geëindig met polisie wat ‘n Vredenburg-pa doodgeskiet het.


‘n Gyselaarsdrama van byna ses ure het Vrydagmiddag geëindig met polisie wat ‘n Vredenburg-pa doodgeskiet het.

Polisielede staan by die deur van die Wendyhuis wat hulle vroegoggend afgetrap het om die kind te probeer bevry.

Die pa het Vrydagoggend glo om 06:00 ‘n rusie met sy vriendin gehad waarna hy hul 2-jarige seuntjie gegryp en glo ‘n mes teen die kind se keel gehou het.
Die vrou kon ontsnap en het die polisie ontbied na hul woning in Nackerdienstraat, Vredenburg.

Die pa het die kind na ‘n Wendyhuis in die agterplaas geneem en homself daar met die kind toegesluit.

Plaaslike polisie het vir ure met die man onderhandel om die kind los te laat, maar tevergeefs. Nuuskierige inwoners het buite die afgesperde gebied by vensters uitgeloer en in die straat saamgebondel om te sien wat aangaan.

‘n Taakspan is vanuit Kaapstad ontbied wat omstreeks 12:00 die Wendyhuis bestorm het. Verskeie skote asook ‘n rookbom is afgevuur.

Die pa is op die toneel dood en die seuntjie is onmiddellik deur polisie in ‘n wagtende ambulans geplaas.

Dit is onbekend watter beserings die kind opgedoen het, maar volgens die polisie het die pa sy kind beseer.

Vredenburg-polisie het bevestig dat die seuntjie na die Rooikruis-kinderhospitaal geneem is. Volgens wat verneem word het familielede verwag dat die seuntjie al oor die naweek ontslaan sou word.

You need to be Logged In to leave a comment.