Die vermiste Romano Fredericks.


“Hy was nie ’n kind wat rondgeloop het nie, hy het altyd terug gekom huis toe,” so vertel ’n bedroefde Anna Fredericks.

Saterdag 3 Augustus was dit wel nie die geval nie. Fredericks, die ouma van die vermiste Romano Fredericks (19), ’n inwoner van Yskor en leerder aan die Louwville Hoërskool wil net haar kleinkind weer veilig terug by die huis hê. Romano word sedert Saterdag vermis nadat hy die huis verlaat het om by ’n vriendin te gaan kuier.

Soos Fredericks vertel het sy al hoe meer bekommerd geraak soos dit later in die aand geword het, en hy nog nie teruggekeer het nie. “Ons het al hoe meer bekommerd geraak. Ons het ’n maatjie van die skool gebel en hy sê toe Romano is af Velddrif toe.

“Die tyd het aangeloop en hy het net nie opgedaag nie. Ons het toe hospitale gebel en polisiestasie om te hoor of hy nie dalk daar nie, maar hulle het gesê daar is nie so ’n persoon daar nie.”

Fredericks sê sy het in kontak gekom met die vriendin by wie Romano gaan kuier het in Velddrif en daar was aan die familie gesê Romano het terug geryloop.

Fredericks weet glad nie wat intussen met haar kleinseun gebeur het nie. Sy dra kennis dat hy die taxi op geneem het Velddrif toe, maar weet nie waar hy afgeklim het en of hy weer opgelaai was nie. “Ek weet regtig nie. Daar word nog ondersoek ingestel.” Fredericks hou die geloof dat haar kleinseun sal terugkeer.

Kapt. Tania Helfrich, woordvoerder van die Weskus-polisiedistrik sê die polisie neem kennis dat Romano by die Laingville-kruising Saterdagaand afgelaai is. Sy lê klem daarop dat enige iemand wie dalk vir Romano tussen 20:00 en 21:00 die Saterdagaand ’n rygeleentheid gegee het vanaf die Laingville-kruising, of kennis dra waar hy is, dringend met die naaste polisiekantoor moet kontak maak.

“Die omstandighede rondom sy verdwyning word ondersoek,” voeg Helfrich by.

You need to be Logged In to leave a comment.