Pa’s en ouers wat nie vir kraamverlof kwalifiseer nie, kan uiteindelik vergoeding vir tien dae ouerskapverlof van die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) eis.
Cyril Ramaphosa het in November 2018 die Wysigingswet op Arbeidsverhoudinge onderteken. Dit bepaal dat die ouer wat nie vir kraamverlof kwalifiseer nie, nou tien opeenvolgende dae ouerskapverlof kry wanneer ’n kind gebore word. Dis buiten die drie dae gesinsverantwoordelikheidsverlof wat vantevore gegeld het. Ramaphosa het egter eers onlangs ’n proklamasie onderteken ingevolge waarvan dié voordeel in werking gestel word en dit van 1 November af van krag is.
Werknemers wat tot die WVF bydra, kan tot 66% van hul salaris van die fonds eis indien dit binne die salarisdrumpelbedrag van sowat R210 000 per jaar is.
Ouerskapverlof kan een keer per jaar geneem word.
Hoe kan ouers eis?
Enige ouer wat nie vir vier maande betaalde kraamverlof kwalifiseer nie, kry tien dae betaalde ouerskapverlof ná die geboorte van ’n kind.
Indien ’n kind van twee jaar of jonger wettig aangeneem word, kan die een ouer om aannemings- of surrogaatverlof van tien weke, soortgelyk aan kraamverlof, aansoek doen en die ander een vir tien dae ouerskapverlof.
Teboho Maruping, die WVF-kommissaris, sê die fonds is slaggereed en opgewonde om eise te ontvang “en die nodige finansiële steun aan WVF-bydraers te gee terwyl hulle die tyd gebruik om met hul nuwe kinders te bind en hulle te versorg”.
Ouerskapsverlof is ingestel ná ’n jare lange stryd deur Hendri Terblanche van Durbanville. . Kry die aansoekvorm by www.labour.gov.za. Besoek enige tak van die departement van arbeid met jou identiteitsdokument, die volledige geboortesertifikaat van die kind en besonderhede van ’n geldige bankrekening.
– Die Burger