Ouers in hof oor kindermishandeling wat oor jare strek

Ouers van Vredenburg is aangekeer op aanklagte van mishandeling en omdat hulle nie die verkragting van hul kinders aangegee het nie.


’n Ouerpaar van Vredenburg is verlede week in hegtenis geneem op aanklagte van kindermishandeling en die feit dat hulle nie die verkragting en seksuele aanranding van hul kinders by die polisie gaan aangee het nie.

Die middeljarige man en sy vrou is Donderdag (29 Augustus) in hegtenis geneem en het reeds Vrydag (30 Augustus) en Maandag (2 September) in die Vredenburg-landdroshof verskyn.

Die klagstaat dui aan dat die kinders – toe nog almal jonger as 15 jaar oud – oor jare aangerand, verkrag en seksueel aangerand is.

Die man het na bewering die kinders met sy vuiste, ’n hokkiestok en sy veiligheidstewels aangerand en hulle aan die hare getrek.

Sy vrou en die ma van die kinders het hulle na bewering met ’n gordel, ’n besem of die veiligheidstewels geslaan en hulle gewurg.

Die staat voer ook aan dat die egpaar van die kinders se verkragting, vermoedelik deur twee familielede, bewus was, maar niks daaraan gedoen het nie.

Die Vredenburg-eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe verwag om binnekort nog mense in verband met die saak aan te keer.

Die egpaar sal volgende week weer in die hof verskyn vir hul borgtogaansoek. Tot dan word hulle aangehou.

Die kinders word in ’n plek van veiligheid versorg.

You need to be Logged In to leave a comment.