Die ouerpaar van Vredenburg wat in Augustus in hegtenis geneem is op aanklagte van kindermishandeling en die feit dat hulle nie die verkragting en seksuele aanranding van hul kinders by die polisie gaan aangee het nie, is uit op borgtog.
Die ma en die pa is Vrydag (13 September) elk R1 000 borgtog met streng voorwaardes toegestaan.
Die staat voer aan dat die ouers bewus was dat die kinders oor jare – toe almal nog jonger as 15 jaar was – deur vermoedelik twee ander familielede aangerand, verkrag en seksueel aangerand is. Die ouers het dit na bewering nooit aangemeld of iets gedoen om dit te keer nie.
Luidens die klagstaat het die pa die kinders boonop met sy vuiste, ’n hokkiestok en sy veiligheidstewels aangerand en hulle aan die hare rondgetrek. Die kinders se ma het hulle na bewering met ’n gordel, ’n besem of die veiligheidstewels geslaan en hulle gewurg.
As deel van die borgtogvoorwaardes mag die ouerpaar net vir hul hofverskynings in Vredenburg kom en hulle mag nie die kinders kontak nie.
Die saak is tot 17 Oktober uitgestel sodat dit verder ondersoek kan word.
Nog inhegtenisnemings word verwag.