Ons almal ken die sê-ding “Oudword is nie vir sissies nie”. Dié van ons wat aan die ander kant van 60 is, voel dit aan ons lyf. Vir ander het die skarniere al vroeër begin probleme gee en moes die brille en pille net ná hul middel-50’s al lêplek op die bedkassie gekry het.
Die ander waarheid is dat nie almal die voorreg het om oud te word nie. Vra maar die ouer wat langs ‘n oop graf moes staan en sy kind moes groet. Dis mos nie hoe die lewe veronderstel is om te werk nie, maar weet een van ons rêrig hoe die lewe werk?
Hoe ouer ek word, hoe meer besef ek hoe min beheer ons eintlik het, al dink ons mensdom dat ons als in ons twee hande vashou. Net een telefoonoproep en jou lewe val uitmekaar. Net so min beheer as wat ons oor omstandighede het, net so min beheer het ons oor ons oudword. Jy kan superfiks wees en net gesonde kos eet en jy kry ‘n beroerte en jy is bedlêend en alles moet vir jou gedoen word.
Die ander kant van die muntstuk – jy kan jou lewe om-“ge-party” het en op jou oudag is als nog honkie dorie en loop jy die normale pad van oudword.
Die storie van die drie varkies en die wrede wolf laat my baie aan die oudwordproses dink. Die wolf (ouderdom) blaas en blaas om in te kom, maar as jou huis sterk genoeg is, sukkel die wolf. Op die ou einde kom hy wel deur die skoorsteen, maar dan is daar ‘n pot op die vuur met kookwater net om vir oulaas die wolf te probeer keer.
Baie raad is al gegee oor wat om vir ‘n lang, gesonde lewe te doen. Volgens Eden Alternative Caring is drie dinge belangrik om te doen sodat die wolf so ‘n bietjie meer sal sukkel om by die deur in te kom.
Die eerste is om te sorg dat jy nie vereensaam nie. Dit is belangrik om iemand te hê vir wie jy omgee en wat vir jou omgee. In vandag se lewe is dit soms ‘n uitdaging. Dit is nie nodig om ‘n hele kerkgebou vol mense te hê nie. Raak net betrokke by een mens.
Tweedens, hou aan om ‘n verskil te maak. Solank ons ‘n verskil maak, bly die gevoel van nutteloosheid langer buite.
Al nooi jy net iemand vir ‘n koppie tee en help haar/hom om minder eensaam te wees, dan het jy twee keer die wolf van die deur af gehou. Want sien, die een voel daar is betekenis in my lewe en die ander voel minder eensaam. As jou lyf nie meer wil doen wat jy vir hom sê nie, kan jy nog altyd ‘n verskil maak en die grootste impak in die wêreld maak: Jy kan bid – gebed verander dinge.
Derdens, hou op om net te sit en niks te doen. Hoe sê hulle – ledigheid is die duiwel se oorkussing. Bly besig met lees, handwerk,
tuinwerk – enigiets, maar bly besig.
Vir die jonger geslag wil ek net in jul oor fluister: Laat die mense met meer lewenservaring as julle toe om so lank as moontlik hul eie ding te doen, al is dit net om self die bed op te maak of die emmer water te dra.
Mel Robbinson het met meer as 50 spesialiste op verskillende terreine gepraat oor wat om te doen om ‘n gesonde, gelukkige en lang lewe te lei. Daar is drie dinge wat by almal ooreenstem. Nommer 1: Oefen elke dag. Dit is nie nodig om elke dag ‘n marathon te harloop nie. Beweeg net jou lyf. Jy hoef ook nie weermag-push-ups te doen nie. Ek moet bieg – daai sersant gaan lank wag vir my om weermag-push-ups te doen. Dis makliker om te staan en jou lyf van die muur af weg te stoot. Nommer 2: Minder skermtyd. My ma het altyd gesê ons gaan vierkantige oë kry van te veel TV kyk. Vandag is die vierkant baie kleiner in die vorm van ‘n selfoon. Die goed wat op die vierkantige skems is, maak ons koppe deurmekaar, want dit is nie altyd gesonde inligting nie.
Nommer 3: Gesonde verhoudings met jou familie en vriende. ‘n Mens kan jou vriende kies, maar nie jou familie nie. Dit maak die verhoudings met familie soms ‘n uitdaging. Die belangrikste is egter dat daar so ver as moontlik vrede en liefde moet wees.
Hoe lyk dit in die praktyk? Nadat my pa hemel toe is, stel my ma vir ons kinders die regte voorbeeld van hoe om ouderdom as ‘n seën en genade te beskou. Elke oggend trap sy daai fiets in haar kamer. Sy wag nie vir die haan om in die oggend te kraai nie. Teen agtuur hang die wasgoed en is sy reg om in die tuin te gaan werk. Sy en die ander mense met baie lewenservaring en wat saam met haar in die aftree-oord bly, sorg dat daar gereeld ‘n byeenkoms is. As dit nie is om ‘n sundowner te geniet nie, is dit om ‘n teepartytjie in die tuin te hou. En moenie vergeet van die saamskree vir die Springbokke in iemand se woonkamer nie. Sy help uit as iemand in nood is en vir die tuinwerkers gee sy op warm dae iets koels te drinke. Die kleinkinders kom ook gereeld aan ouma se deur klop en so moes sy al ‘n tent vir een maak.
Haar oë word nie vierkantig van TV kyk nie, want haar hande bly besig met ‘n kunsskepping terwyl sy die skerm beloer. Ons kinders plaas ons bestellings – van mussies tot komberse. Mag ek die genade ontvang om op 80 jaar nog so aan die gang te wees.
Al het ons nie beheer oor ons oudword nie en al is dinge soms onregverdig, moet jy nog jou beste elke dag gee om die oudword-wolf so lank as moontlik weg te hou.
Mag ons almal besef dat oudword ‘n seën en genade is en besef ‘n mens word net wyser elke jaar. As jy in die spieël kyk en jy sien die plooie, besef dat die lyne ‘n bewys is van al die lag, huil, vreugde en hartseer sodat jy al die paaie wat jy geloop het, kan onthou.
Nie almal van ons kry die kans nie.


