Oud-Sub A’tjie wen nou groot

Sy het haar loopbaan by Steenberg’s Cove Primêr as ’n Sub A-leerder begin en jare later staan sy aan die helm van dié skool.


Sy het haar loopbaan by Steenberg’s Cove Primêr as ’n Sub A-leerder begin en jare later staan sy aan die helm van dié skool.

Dit is maklik om te sien waarom Virginia Vraagom vanjaar die wenner van die Life Time Achievement-toekenning vir onderwys ontvang het. Vraagom het dié prys by die plaaslike ronde van die nasionale onderwys-toekennings ontvang.

“Ek is nou deur na die volgende ronde, maar vir my gaan dit nie werklik oor die toekenning nie. Dit is eerder die feit dat my kollegas my benoem het wat bewys dat hulle waardering het vir die werk wat ek doen,” meen Vraagom.

As deel van die volgende ronde moet Vraagom ’n voorlegging doen oor haar ondervinding in die onderwys. Haar loopbaan strek oor 41 jaar en sy sê om al die lesse wat sy oor vier dekades geleer het in een voorlegging te druk, wil gedoen wees.

Vraagom het destyds as leerder by die primêre skool begin en is net vlugtig weg om graad 8 by Panorama te voltooi waarna sy na Skoonspruit is. Nadat sy haar studies voltooi het, is sy weer terug na die gemeenskap waar sy grootgeword het, en hier is sy steeds.

Alan Meyer, hoofdirekteur van onderwys, het in sy toespraak by die geleentheid melding gemaak van die netheid van die skool wanneer hy verbyry na Brittaniabaai – ’n aanmerking wat Vraagom laat “swel het van trots”.

Die provinsiale toekennings word Vrydag 2 November in Kaapstad gedoen.

You need to be Logged In to leave a comment.