Johan Daniëls van Saldanha onthou nog goed, die opwinding by die eerste Visfabrieke-toernooi wat in Oktober 1990 gehou is.
Hy was toe 30 jaar oud en kaptein van Sea Harvest se rugbyspan, die toernooiwenners van daardie eerste toernooi.
“Dit maak die toernooi 27 jaar oud, nie 30 jaar soos Boland-rugby beweer nie,” sê hy. As bewys het hy sy vergeelde Weslander van 19 Oktober 1990 saamgebring waarin ’n volle agt bladsye vol foto’s aan die aksie by die eerste toernooi gewy is.
Op die foto’s pryk onder meer ook die rugbylegende dr. Danie Craven, toe 80 jaar oud, wat volgens die berigte al die wedstryde die Vrydag en Saterdag op Velddrif bygewoon en hoog in sy skik was met wat hy gesien het.
Dit was Dok Craven wat vroeër dieselfde jaar voorgestel het dat ’n visfabrieketoernooi gehou word.
“Die Wynland teen WP-ligawedstryd is in April op Saldanha gespeel en as voorwedstryd het ’n span van Sea Harvest teen ’n span van I&J gespeel,” onthou Daniëls.
Dieselfde jaar is die eerste Visfabrieketoernooi met 16 spanne gehou en dit het met die 60ste bestaansjaar van die Velddrif-rugbyklub saamgeval. Die destydse minister van omgewingsake en waterwese, Gert Kotze, het die dag bygewoon asook Dougie Dyers van die SA Rugbyraad en Eckart Kramer, die besturende direkteur van Sea Harvest.
Die Sea Harvest-span, onder leiding van Daniëls, was daardie jaar én die daaropvolgende drie jaar die wenners van die toernooi.
Sokker het in 1993 deel geword van die toernooi en in 1997 het Boland Rugby ingekom en beheer van die rugbytoernooi oorgeneem.
Daniëls was later afrigter, skeidsregter en keurder, maar is nou nie meer by rugby betrokke nie.