Die nuwe bestuur van die Vredenburg-gemeenskapspolisiëringsforum is voor (van links) Clive Siebrits (tesourier), Freddie Smook (ondervoorsitter), Christo de Wet (voorsitter), Vee Adams (sekretaresse) en Carli Smook (bemarking). Agter staan Jean Retief (programbestuurder) en die bykomende lede Naomi Venter, Filicia Solomons, Ayabonga Mhlomeli en Denzil Holloway.Foto: Alida Buckle


’n Oud-polisiebevelvoerder staan nou aan die stuur van sake by die Vredenburg-gemeenskapspolisiërings­forum (GPF) ná die verkiesing van ’n nuwe bestuur.

Christo de Wet, oud-bevelvoerder van die Langebaan-polisie en wat ook al misdaadvoorkomingshoof by die Vredenburg-polisie was, is verlede Dinsdag (12 November) as voorsitter verkies.

Kol. Lindie Marx, bevelvoerder van die Vredenburg-polisie, het benadruk dat die GPF geweldig gaan baat vind by De Wet se jare ondervinding, agtergrond en kennis oor misdaad.

De Wet wil voortbou op die vorige bestuur se goeie werk en die gemeenskap dien met vertroue en trots. Dit is ook vir hom belangrik om ’n goeie verhouding en samewerking met die polisie te handhaaf.

Ingevolge die GPF se grondwet moes De Wet as voorsitter van die Vredenburg-buurtwag bedank, maar hy mag steeds in die buurtwag se bestuur aanbly.

Marx het die polisie se maandelikse terugvoer aan die gemeenskap hanteer. Sy het spesifiek verwys na die goeie samewerking wat op die oomblik tussen die polisie en die verskillende sekuriteitsmaatskappye op die dorp heers. Hulle kom een keer per maand bymekaar en daaruit het al verskeie suksesverhale gespruit.

“Die polisie werk nooit alleen nie, maar word bygestaan deur verskeie rolspelers soos onder andere wetstoepassers, die verkeersafdeling, buurtwagte, sekuriteitsmaatskappye en die GPF.”

Sy het die sekuriteitsmaatskappye en buurtwagte as die polisie se ekstra oë en ore beskryf. Die polisie en die sekuriteitsmaatskappye se beheerkamers is ook op ’n gesamentlike kommunikasie­kanaal sodat inligting tydig deurgegee kan word.

Volgens Marx lyk die dorp se misdaadsyfers effens beter, ten spyte van die bendegeweld waaronder die dorp steeds gebuk gaan. Misdaad in die sakekern het gedaal, juis “vanweë almal wat dinge so dophou” en verhoogde teenmisdaadoptredes. Sy het wel haar kommer uitgespreek oor toenemende huisbrake in die dorp in die gebied agter die hospitaal, maar die uitbreiding van die buurtwag behoort dinge vas te vat.

Marx het die Esperia-buurtwag vir sy goeie werk geprys nadat dit misdaad in hul buurt drasties laat daal het.

Sy het verder gesê Paternoster en George Kerridge loop steeds onder ’n string misdaadvoorvalle deur.

Niemand van Paternoster het egter die vergadering bygewoon nie.

Ayabonga Mhlomeli van George Kerridge het die vergadering bygewoon omdat hy graag ’n buurtwag vir dié buurt op die been wil bring. Hy is as een van die bykomende bestuurslede gekies.

Jean Retief, uittredende voorsitter, het die vorige bestuur bedank vir al die jare se harde werk om die GPF uit te brei. Retief is al 14 jaar by die GPF betrokke en bly steeds aan as programbe­stuurder. Hy het uitgebreide sakebelange wat nou meer van sy tyd opeis.

Marlene Olivier het die stemmery namens die Weskus-polisiedistrik se GPF hanteer.. Almal wat betrokke is by die GPF en die buurtwagte doen dit op ’n onbetaalde, vrywillige grondslag.

You need to be Logged In to leave a comment.