Blink gevryf en met vol tenke het agt ou motors Donderdag 11 Februarie vanaf Langebaan na George vertrek.
Danie Marnewick, voorsitter van die Weskus Ou Motor-klub, en ander Weskus-geesdriftiges was op pad na die 20ste George Ou Motor-skou.
Met die regte langpad-liedjies en genoeg eetgoed het die klublede in onder meer ’n 1966 Impala en ’n 1964 VW Notchback van die Engen 1-Stop af weggetrek.
Die groep, wat reeds 15 jaar lank die skou besoek, het verskeie lede langs die pad gekry en rus-rus die pad na George aangedurf. Daar is stilgehou in Worcester, Robertson en Barrydale met heelwat geselligheid in elke dorp.
“Ons ry die lang pad, hou hier en daar stil. Ons is baie rustig en ry maar kuier-kuier,” verduidelik Eslie, Danie se vrou.
Die Ou Motor-skou is een van die grootstes in die land en het vanjaar sy 20ste bestaansjaar gevier.
Die terrein van die Hoërskool PW Botha in George het Saterdag 13 Februarie en Sondag 14 Februarie meer as 820 veterane en klassieke motors (ouer as 1975) verwelkom vir besoekers om oor te “oe en aa”.
’n Veiling van verskeie spogmotors is gehou en ’n 1984 Packard is vir R195 000 opgeveil.
Benewens die vierwiel-rygoed was daar ook ou trekkers, motorfietse en aangepaste voertuie te sien.
Vir diegene wat die motors uit Rebel Without a Cause se dae ken, was daar verskeie hot rods om te waardeer.
Die Weskus-motor wat die heel meeste aftrek gekry het, was Andries Bodenstein se 1956 Hudson Rambler, die enigste Hudson Rambler by die skou.
“Dit was ’n fantastiese naweek. Die 1964 Vauxhall het in ’n stadium probleme gehad met die petrolfilter, maar dit is gou reggemaak en ons het Vrydag in George aangekom,” sê Marnewick.
Volgens Marnewick gaan volgende jaar se skou, die 21ste, ’n groot gedoente wees en het die Weskus-klub reeds plek bespreek.