Met hul leuse “Ons hartklop is vir ons mense” pak High Hopes projekte aan met die doel om ander in nood te help.
Claudine Cleophas Fredericks het dié organisasie sonder winsoogmerk in Hopefield gestig. Hul Omgee-winterprojek hou ‘n diep persoonlike verbintenis vir haar, ‘n nagedagtenis aan haar bloedlyn.
“High Hopes is toegewy aan die gemeenskap van Hopefield en streef daarna om ‘n positiewe invloed te hê – selfs sonder deurlopende finansiering. Ons toewyding word verder versterk deur ‘n gesamentlike poging met Shoprite. Hierdie vennootskap beklemtoon die krag van samewerking en gemeenskapsbetrokkenheid,” benadruk Fredericks.
Inwoners van Hopefield word aangemoedig om ten volle van hierdie geleentheid gebruik te maak.
Volgens Fredericks kan High Hopes en sy vennote tot ‘n duisend mense twee keer per maand op ‘n Saterdag in Hopefield voed.
Op Saterdag 28 Junie het Hopefield se mense byeengekom om aan die winterprojek deel te neem. ‘n Shoprite-vragmotor van Kaapstad het omstreeks 12:00 aangekom en heerlike warm sop verskaf.
Dit kom weer op 12 en 26 Julie, 30 Augustus, 10 September en die laaste keer op Saterdag 27 September.