Onder die groot wenners van vanjaar se plaaslike ATKV-opstelkompetisie was, van links, Keanu Klaaste en Sonique van Wyk van Jurie Hayes, die kultuurbekerwenner Evangeline Mornet van Topolino Privaatskool en Amorey Coraizen, Elrie Bester en Michelle Marshall van Hoërskool Vredenburg saam met Saldanhabaai se eerste burger, Marius Koen. Foto’s: Yaël Malgas


Die plaaslike tak van die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) het Vrydag van die streek se beste opstelskrywers en leerders vir hul kultuurprestasies beloon.

Volgens Corné de Milander, die voorsitter van die Saldanhabaai-gesinstak, het leerders vir die tema van vanjaar se opstelkompetisie – waterbesparing – met kreatiewe, vooruitstrewende idees vorendag gekom om water te bespaar.

As deel van die tema het die gasspreker by die geleentheid, Saldanhabaai se burgemeester, Marius Koen, oor die noodsaaklikheid van waterbesparing gesels.

Die opstelwenners in die graad 7-afdeling was almal van die Laerskool Vredenburg. Britney Prins het die bronsmedalje vir haar opstel ontvang, Lianka Jordaan was tweede en Minke Engelbrecht het die wenopstel geskryf.

Die leerders van Jurie Hayes Primêr het naam gemaak in die graad 8-kategorie met Sonique van Wyk en Keanu Klaaste wat onderskeidelik derde en tweede was. Die wenopstel is deur Penelope Snyders van die Hoërskool Vredenburg geskryf.

Die graad 9-leerders se uitblinkers was almal van die Hoërskool Vredenburg met Amorey Coraizen (derde), Elrie Bester (tweede) en Michelle Marshall (eerste) wat geseëvier het.

Die kultuurbeker is deur Evangeline Mornet van Topolino Privaatskool gewen met Minke tweede.

Saldanha se bekroonde skrywer, Esta Steyn, was die beoordelaar van die opstelle en het die leerders aangemoedig om voort te gaan met hul skryfwerk en betrokkenheid by die ATKV.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 10 July 2025
    Weslander E-Edition – 10 July 2025