Frank Opperman het verskeie rolle vertolk in sy eenmanvertoning in Vredenburg.

Frank Opperman het die gehoor by die Weskusskool Saterdag (8 November) met sy hartroerende én humoristiese vertoning oor sy 45-jaar-skoolreünie op ‘n nostalgiese reis geneem.

Dié geldinsamelingsaand, gereël deur Erna du Plessis ten bate van Huis Wittekruin in Vredenburg, het nie net sakke nie, maar ook harte gevul.

Die gehoor het die saal laggend, huilend en nadenkend verlaat nadat Opperman sy nuutste eenmanvertoning oor sy 45-jaar- skoolreünie van die “Hoërskool Totius” op die verhoog gebring het. Hy het die gehoor op ‘n snaakse én roerende reis na sy skooldae geneem – na ‘n tyd van eerste liefde, groot drome en klein skandes; oor die verbygaan van tyd, die soet en suur van volwassenheid en die wonder van vriendskappe wat ná dekades bly vassteek.

Met sy tipiese mengsel van humor, ironie en sielkunde kyk hy terug na die seuns wat grootgeword het, die onderwysers wat hul merk gelaat het en die lewenslesse wat eers jare later sin begin maak het.

“Die lewe is ‘n lied. Leef die lewe vorentoe, jy kan hom nie agteruit sing nie, maar jy kan hom terugwaarts verstaan,” sê hy.

Hy spot oor hoe die ou rugbyhelde nou knieë het wat kraak en die mooi meisies van destyds nou die eerste op die dansvloer is, al dra hulle ortopediese skoene.

Tog steek daar ‘n warm menslikheid agter die grappies. Opperman herinner mense daaraan dat nostalgie ook erkenning is van hoe ver ons gekom het. Hy

sluit af met ‘n glimlag: “As die lewe rof raak, kyk hom in die oë en sê: ‘Poeksie woeksie se worsie wapsie is nog baie lief vir hom’.”

Dis juis sy mengsel van selfspot, wysheid en warmte wat by gehore aanklank vind.

Elkeen herken iets van hulself in hom.

• Die Huis Wittekruin-aftreeoord in Vreden-

burg huisves 150 inwoners. Volgens Du Plessis was die doel van die aand nie net geld nie, maar ook gees en glimlagte.

“Ons inwoners leef in vreugde en dankbaarheid en vanaand se optrede het weer bewys dat humor en menslikheid hand aan hand loop,” het sy gesê.

Die inwoners en ondersteuners van Huis Wittekruin het Du Plessis met warm applous en dankbetuiging geëer vir haar rol in die sukses van die geldinsameling, en vir ‘n aand waar die lewe, soos Opperman sê, weer soos ‘n lied gevoel het.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 27 November 2025
    Weslander E-Edition – 27 November 2025

Gift this article