Mense word oral so gebombardeer met inligting – deurentyd; heeldag; op ’n menigte platforms.
Dit herinner aan wetenskapsfiksie-rolprente van ouds waar mense met virtuele gedoentes op hul koppe sit, wegneemetes en ander noodsaaklikhede bestel, sonder om enigsins met ander mense te meng – geen fisieke interaksie met ander lewende wesens nie.
Grendeltyd het vir baie mense ’n ommekeer in hul sosiale lewe beteken, wat vir sommige nog nie heeltemal herstel het nie. Mense leef in kokonne van waar hulle op sosiale media meen dat hulle hul mening kan opper soos en wanneer hulle wil, ongeag of hulle laster pleeg of ander onregverdig krenk.
Onbevestigde inligting word klakkeloos aangehaal, sonder ontleding of feite.
Óf joernaliste se harde werk word voorgehou as iets wat iemand anders self bygewoon of geskryf het. Net so woord hier en daar verander . . . maar plagiaat bly net dit – ’n praktyk om ander se werk of idees as jou eie voor te gee, en dit is strafregtelik strafbaar.
Lesers moet meer ag slaan op waar inligting vandaan kom. Moenie aanhou om ’n stukkie aangestuurde teks oor en oor aan te stuur nie.
Google dit. Doen jou huiswerk. As dit onwaar is, kom daar gewoonlik gou inligting na vore wat dit as vals beriggewing uitwys.
Weslander poog al 53 jaar om ywerig feite na te gaan en seker te maak dat elke berig geweeg word aan die vereistes soos wat deur die Perskode van die land bepaal word. Ons werk ook voorkomend saam met Media24 se Persombudsman om seker te maak dat ons die gemeenskap ingelig hou – met korrekte weergawes en feite.
Maak dus seker daarvan dat jou bron van inligting betroubaar is.

