In die aanlyn wêreld van vandag bestaan baie meer maniere waarop mense – en ondernemings – in die moeilikheid kan beland.

Dit gaan nie meer net oor ongelukke op persele nie, maar ook oor wat ons aanlyn sê en deel.

Volgens Melita Thurling van ITOO Special Risks het die groei van sosiale media en gebruikersgegenereerde inhoud (soos foto’s, video’s of plasings wat gewone mense maak) die kans baie groter gemaak dat iemand ander mense se kopiereg, privaatheid of goeie naam kan skend – selfs per ongeluk.

Dit geld vir ondernemings én vir mense wat as beïnvloeders of inhoudskeppers werk.

Thurling sê dis nou nog belangriker om feite na te gaan voordat jy enigiets deel. “Jy moet seker wees dat jy toestemming het om inligting of beelde te gebruik en dat jy nie iemand se regte oortree nie.”

Baie mense deel dinge wat hulle op WhatsApp of Facebook sien, sonder om vas te stel of dit waar is. Sy waarsku dat jy steeds aanspreeklik (verantwoordelik) kan wees as die inligting vals is – selfs al het jy dit nie self geskep nie. “Jy kan nie sê ‘ek het dit by iemand anders gekry’ en dink dit maak jou onskuldig nie. Jy is áltyd verantwoordelik vir wat jy self publiseer.”

Om seker te maak iets is waar, sê sy, kan jy kyk of betroubare nuusbronne soos koerante of groot nuuswebwerwe dieselfde storie dra. Hoe meer betroubare bronne dit sê, hoe groter is die kans dat dit waar is.

As iets soos ‘n mening klink, moet jy onthou dat die skrywer dalk ‘n vooroordeel of eie agenda het.

‘n Plaaslike aktrise het, byvoorbeeld, ‘n foto van haarself gedeel, maar omdat die foto deur ‘n agentskap geneem is, het sy nie die reg gehad om dit te gebruik nie – en hulle het haar gedagvaar.

Die les? Net omdat jy op die foto is, beteken nie jy besit dit nie. Jy moet altyd weet wat jy mag gebruik en wat nie.

Baie beïnvloeders het baie aanhangers, maar hulle verstaan nie altyd die wette oor inhoud en kopiereg nie. Daarom kan hulle maklik in die moeilikheid beland sonder om dit te bedoel.

Thurling sê aanspreeklikheidsversekering of kuberversekering dek dinge soos onbedoelde kopieregskendings of laster (wanneer iemand se reputasie skade ly deur iets vals).

Maar sy waarsku: “Versekering dek net eerlike foute, nie as jy iets opsetlik verkeerd doen nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 27 November 2025
    Weslander E-Edition – 27 November 2025

Gift this article