Hoe beweeg jy aan? Hoe tel jy die stukke op? Hoe aanvaar jy dat jou geliefde nie weer sal terugkeer nie?
Hierdie is maar net sommige van die gevoelens waarmee die familie van Bradley Douw (33) worstel.
Douw, ’n inwoner van Louwville, is sedert Donderdag 14 Desember 2023 vermis, maar nuwe verwikkelinge het onlangs aan die lig gekom wat bevestig het dat Douw wel vermoor is. Dit volg nadat die polisie nou, ’n jaar en twee maande ná sy verdwyning, bevestig het forensiese toetse bewys dat die beendere wat gevind is in Januarie 2024 ná ’n drie dae lange soektog wat deur die gemeenskap van stapel gestuur is, wel dié van Douw is.
Die beendere is destyds onder die bome by die uitgang van Vredenburg op die R45, oorkant die kragstasie, gevind.
Die nuus van sy verdwyning het soos ’n veldbrand versprei en die gemeenskap was vinnig om in te spring om na hom te soek.
Daar kon egter nie op daardie stadium bevestig word of dié oorskot enige verbintenis met Douw se verdwyning gehad het nie.
Weslander het met Douw se suster, Lizelle, en haar man, Frank Galant, gesels wat die emosionele, fisieke en geestelike tol beskryf het wat die tragiese gebeure op hulle as familie gehad het. Soos Frank verduidelik, was daar geen manier hoe hul kon opgee om na hul geliefde te soek nie.
Hy vertel hoe dit ongewoond was vir Douw om vir so ’n lang tydperk weg te bly en dat hy altyd na ’n dag of twee huis toe sou terugkeer. Dit was vir hulle ’n teken iets het moontlik met hom gebeur. Verskeie DNS-toetse is die afgelope jaar op die oorskot gedoen wat nie suksesvol was nie. Met die hoop dat hul spoedig uitslae sou kry, het die familie selfs ’n private laboratorium genader om die eerste twee stelle DNS-toetse te doen, net om uit te vind dat hul geen DNS op die beendere kon vind nie.
Die derde monster is toe na die staatslaboratorium gestuur, wat die familie ingelig het die uitslae kon positief verbind word met die oorskot wat tussen die bome gevind is.
Frank het ook genoem hoe traumaties en uitputtend hierdie hele proses van onsekerheid, wag en sien vir hul ma was. “Geen ouer verdien om soveel trauma en emosionele uitputting te verduur nie.
“Dit was wonderlik om te sien hoe die gemeenskap ons bygestaan het en gehelp soek het na Bradley, ons bedank hulle uit ons harte,” sê Lizelle en Frank.
Mandy van Rooyen, die peetma van Douw, sê dit het gevoel asof iets binne haar skeur toe sy die nuus hoor.
“Hoewel ’n mens jouself voorberei het vir enigiets, maar om dit te hoor, los net ’n seer binne in jou. Diegene wat verantwoordelik is vir sy dood moet aan die pen ry,” sê sy.
“Hy is op ’n baie wrede manier vermoor. ’n Pa, seun en broer is weggeneem van ons af. Die gaping is nou gevul en hoewel ons nader aan afsluiting is en daar nog vrae is, moet geregtigheid geskied, want die persoon of persone wat Bradley se lewe geneem het, loop steeds daarbuite rond en is ’n gevaar vir ons gemeenskap,” sê Frank.
Die familie sal Douw onthou vir die liefdevolle mens wat hy was.
“Ons het hom baie liefgehad en hy het ’n groot impak op die lewe van ander gelaat.”
Lizelle en Frank moedig ook ander families aan om nooit op te gee en nooit op te hou soek nie wanneer dit kom by hul vermiste geliefdes.
. Enigiemand met inligting wat die polisie kan help in hul ondersoek word versoek om die Vredenburg-polisie by 022 703 6440 te kontak.