‘n Gemmerkat drink dorstig water wat op ‘n sypaadjie lê. Foto: Karol Chomka | Unsplash

Wanneer die somer sy hitte bring, dink baie mense aan hul honde – maar vergeet van hul katte.

Katte is onafhanklik en slim, maar hul liggame is net so vatbaar vir oorverhitting. Al lyk dit soms asof hulle van die son hou, kan te veel hitte gevaarlik wees. ‘n Kat se liggaam kan net tot op ‘n punt aanpas – daarna begin hul temperatuur vinnig styg, wat tot ernstige gesondheidsprobleme kan lei.

Mense koel af deur te sweet, maar katte kan dit nie doeltreffend doen nie. Hulle sweet slegs deur klein kliertjies in hul pootkussings, wat nie genoeg is om hul liggaamstemperatuur te beheer nie.

Wanneer jy ‘n kat se nat voetspore op ‘n teëlvloer sien, is dit eintlik sweet. Katte probeer ook afkoel deur vinnig asem te haal (hyg), wat vog op die tong laat verdamp. Dit help, maar is minder doeltreffend as sweet.

Hulle lek hul pelse ook gereeld. Die speeksel wat verdamp, bring ‘n bietjie verkoeling. Tog is hierdie metodes beperk. As die temperatuur bo 30 °C styg, sukkel baie katte om hul liggaam koel te hou.

Waarskuwingstekens van hittestres

Eienaars moet weet hoe om die tekens van oorverhitting te herken. ‘n Kat wat rusteloos is, vinnig asemhaal, hyg, kwyl of braak, het waarskynlik hittestres. Donker of rooi tandvleis, swakheid, verwarring of ineenstorting is noodtekens – en vereis onmiddellike behandeling.

Sommige mense glo dat buitekatte hitte beter kan verdra omdat hulle “gehard” is. Dis nie waar nie. Katte – binne of buite – kan gevaar loop.

‘n Kat wat in ‘n motor of klein kamer sonder ventilasie vasgekeer word, kan binne minute sterf. Selfs buite kan warm sement, sinkdakke en teer hul liggame oorverhit of hul pote brand.

‘n Kat se gewone liggaamstempera- tuur is tussen 38 en 39 °C. Sodra dit bo 40  °C styg, is orgaanbeskadiging moontlik. Katte wys nie altyd onmiddellik dat hulle ongemaklik is nie – hulle sal eerder net op ‘n koel plek stil lê. Teen die tyd dat hulle sigbare tekens wys, is dit dikwels reeds ernstig.

Hoe om jou kat koel en veilig te hou

Eienaars kan baie doen om hul katte teen hitte te beskerm:

• Gee genoeg vars water: Hou altyd koel, skoon water beskikbaar – in verskeie bakke binne en buite;

• Skep koel skuilplekke: Laat jou kat toegang hê tot goed geventileerde kamers of koel vloere;

• Moenie katte in motors los nie: Selfs ‘n paar minute in ‘n toe motor kan dodelik wees;

• Beperk buitetyd: Hou buitekatte gedurende die warmste dele van die dag binnenshuis;

• Gebruik waaiers of lugversorging: ‘n Eenvoudige waaier of oop venster met ‘n veiligheidsskerm help baie; en

• Bied verkoelende happies: Jy kan klein porsies nat kos of water met tuna-sap vries vir ‘n lekkerny.

As jy vermoed jou kat is oorverhit, beweeg dadelik na ‘n koel plek. Vee liggies met ‘n klam, koel (nie ysige) lap oor die pote, lies en nek. Moenie jou kat in yswater sit nie – dit kan skok veroorsaak.

Hitte is ‘n stille gevaar vir katte en word maklik onderskat. Al is katte veerkragtige diere, is hul liggame eenvoudig nie gemaak vir uiterste hitte nie.

Deur die tekens van hittestres te ken en eenvoudige voorsorgmaatreëls te tref, kan eienaars ernstige siekte of selfs die dood voorkom. Met warmer somers en meer hittegolwe is dit nou belangriker as tevore om ons katte koel, veilig en gesond te hou.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 27 November 2025
    Weslander E-Edition – 27 November 2025

Gift this article