‘n Onwettige immigrant van Lesotho is vandeesweek in die Wes-Kaapse hooggeregshof skuldig bevind aan die moord op ‘n bekende en geliefde egpaar van die Aurora-distrik in 2023.
Phindile Khaya Pone, wat vir Pierre (59) en Belinda de Kock (56) op hul Holvlei-teeplaas gewerk het, is skuldig bevind op alle aanklagte teen hom – moord, roof met verswarende omstandighede en huisbraak met die voorneme om ‘n misdaad te pleeg.
Regter Mark Sher het in sy uitspraak op Dinsdag 22 April bevind dat Pone die rooftog by die egpaar en hul uiteindelike moord met voorbedagte rade beplan en uitgevoer het. Sy twee vermeende medepligtiges, ook burgers van Lesotho wat vir die De Kocks gewerk het, is nog op vrye voet.
Sher het Pone tot lewenslange tronkstraf vir elke moord gevonnis, plus ‘n verdere dertig jaar. Die Hol-vlei-teeplaas het werk aan 32 mense verskaf. Plaaswerkers het in die verhoor getuig oor die verwoestende uitwerking wat die moorde op hulle gehad het.
Die De Kock-egpaar is Vrydag 2 Junie 2023 wreedaardig aangerand, gemartel en vermoor. Hulle lyke is eers twee dae later, nadat niemand hulle telefonies in die hande kon kry nie, op die plaas ontdek. ‘n Werker het hulle by die plaasopstal gaan soek. Daar het sy op Belinda se bebloede lyk in die hoofslaapkamer afgekom en die polisie ontbied. Pierre se lyk is in die motor- huis gevind.
Volgens die klagstaat het plaaswerkers, wat die Vrydag goedere by die plaaswinkel gekoop het, Pierre die laaste keer omstreeks 19:00 gesien. Pone en sy trawante was saam met hom in die winkel.
Voordat Pierre vermoor is, is hy gedwing om sowat R230 000 in verskeie kleiner bedrae in Pone se bankrekening oor te betaal.
Belinda het eers later die aand by die huis gekom en is reguit na die slaapkamer, waar haar moordenaars haar ingewag het. Sy het nog die klere aangehad waarmee sy dié dag by haar onderneming op Piketberg, Droomland, gewerk het.
Dié onderneming het ook aan verskeie mense werk verskaf.
Dr. Nadene-Louise Scherman se nadoodse ondersoek op die De Kocks op 7 Junie 2023 het bevind dat Pierre dood is as gevolg van bloedverlies weens ‘n diep snywond voor aan sy nek. Belinda is op ‘n soortgelyke wyse vermoor – met ‘n diep snywond aan die nek.
Die moordenaars is nooit weer ná die Vrydag op die plaas gesien nie.
Pone se saak is eers in die Laaiplek- landdroshof aangehoor voordat dit na die hooggeregshof in Kaapstad geskuif is.
Dié moord raak die gemeenskap diep. Net soos wat medelye ná die skokkende moorde van oral af ingestroom het, het verteenwoordigers uit verskillende sektore van die Sandveld- en Wes- kusgemeenskap vroeër petisies met duisende handtekeninge laat instroom om borgtog vir Pone teen te staan. Die petisies verwys veral na die De Kocks se ekonomiese bydrae tot die plaaslike gemeenskap.
