Om soggens ’n uitrusting vir die dag te kies, is iets wat die meeste mense as vanselfsprekend aanvaar.
Maar vir iemand wat blind is, kan aantrek en klere koop ’n stresvolle ervaring wees wat hulle boonop van hul waardigheid en selfvertroue beroof.
Balini Naidoo Engelbrecht (30), ’n modeontwerper van Saldanha, het die wêreld se eerste braille-identifikasiestelsel ontwikkel om mense met siggestremdheid in staat te stel om hul eie klere vir die dag uit te soek. Die stelsel bied groter onafhanklikheid aan hierdie groep mense, wat ’n groot gedeelte van Suid-Afrika se bevolking insluit.
Engelbrecht het Dinsdag 31 Mei ’n seremoniële eerbewys vir hierdie baanbrekerswerk in die parlement ontvang.
Die seremonie is ook regstreeks op DStv se kanaal 408 uitgesaai.
Louis Braille was ’n blinde Fransman wat in die vroeë negentiende eeu die bekende braille- skryf- en leesstelsel, wat uit verhewe knoppies bestaan, vir mense met blindheid ontwikkel het.
Balini sê ’n familielid met siggestremdheid het haar bewus gemaak van blinde mense se daaglikse stryd om met selfvertroue ’n uitrusting bymekaar te sit.
Die talentvolle jong vrou, vasberade om haar oom en ander soos hy te help, het dadelik begin navorsing doen.
Sy sê sy was verbaas toe sy by die Suid-Afrikaanse nasionale raad vir blindes uitvind dat die voorkoms van siggestremdheid die hoogste van alle gestremdhede in die land is. Sowat 32% van mense met ’n gestremdheid in Suid-Afrika is mense wat blind of gedeeltelik blind is.
Sy het ook vasgestel dat sowat 57% van hierdie groep mense vroue is, terwyl 23% jongmense tussen 15 en 36 jaar oud is.
Engelbrecht het haar ontwerpvernuf en navorsing oor braille ingespan en ’n byderwetse, stylvolle klerereeks opgetower, wat sedertdien baie aandag in modeontwerpkringe, asook die siggestremde gemeenskap getrek het.
Braille word prominent op elke kledingstuk as deel van die estetiese ontwerp vertoon. Vir diegene met goeie sig lyk die braille soos ’n interessante patroon op ’n modieuse baadjie of romp.
Mense met siggestremdheid gebruik die braille op die klere om aan hulle inligting oor die snit, kleur, grootte en was- of sorginstruksies te gee.
Haar innoverende konsep, waarop sy patentreg het, is ’n eerste van sy soort in die wêreld.
Sedert sy die klerereeks ’n paar jaar gelede ontwikkel het, het joernaalprogramme soos SABC se Top Billing en Mela –an Indian Experience haar genooi om oor haar klerereeks vir die blindes op die kassie te kom gesels.
Haar storie het ook in verskeie tydskrifte verskyn en haar unieke klerereeks het haar na geleenthede geneem waar sy met invloedryke mense van oor die wêreld heen skouer geskuur het.
Madeleine Hicklin, ’n DA-lid van die parlement, doen ’n beroep op kleinsakeontwikkeling om Engelbrecht by te staan om haar droom te bewaarheid om hierdie klerereeks op ’n groter skaal te vervaardig, aangesien die maak van hierdie klere met sy unieke braille-stelsel nogal duur is.
Hicklin het ook gevra dat Engelbrecht ondersteun word om ’n akademie in Saldanha te begin, waar plaaslike mense geleer sal word om die klerereeks te vervaardig.


