Die goue reël geld steeds: “As dit te goed klink om waar te wees, is dit gewoonlik.”
Aanlyn bedrog skiet plaaslik steeds die hoogte in, ten spyte van talle waarskuwings van die plaaslike polisie aan die publiek om op hul hoede te wees.
Die hartseerste is dat dit steeds grootliks bejaardes en die mees weerloses in ons gemeenskap is wat die slagoffers van hierdie booswigte se skelmstreke is.
Elkeen van ons wil glo ons skip gaan eendag inkom en ’n meevallertjie op sy tyd – al is dit ’n R5 wat jy ná ’n lang ruk in jou broeksak op ’n bepaalde dag ontdek – bly lekker. Maar as jy weet jy het nie vir ’n kompetisie ingeskryf nie, of het nie ’n familielid in die buiteland wat vir jou ’n erfporsie kon nalaat nie, is dit ’n klug.
Inteendeel, enige SMS met ’n skakel waarop jy moet kliek, moet met uiterste omsigtigheid benader word. As jy ’n boodskap ontvang, vra eers jou kind of kleinkind om ’n tweede oog te gooi, en ignoreer dit heeltemal as dit van ’n instansie is waarmee jy nie sake doen nie.
Dieselfde geld vir oproepe – moet onder geen omstandighede persoonlike inligting, veral jou ID- nommer en bankbesonderhede, met iemand oor die foon deel nie. Dieselfde geld vir aanlyn-aankope van tweedehandse artikels wat op sosiale media geadverteer word. Moet nooit geld vooruit betaal nie en waar moontlik, dring aan om die persoon in ’n openbare plek, of selfs voor ’n polisiekantoor, te ontmoet, om die artikel/s te besigtig, en vat iemand saam met jou.
En onthou altyd die goue reël.