’n Inwoner van Saldanha is ongelukkig met die mediese versorging wat haar man by Life Weskus- private hospitaal in Vredenburg ontvang het.
Die inwoner het aan Weslander verduidelik dat urienweginfeksie verkeerdelik by haar man gediagnoseer is nadat hy Saterdag 12 Oktober in die hospitaal opgeneem is. Haar man is ná vier dae in die hospitaal ontslaan, maar is later weer weens pyn en ongemak wat hy ervaar het, opgeneem. “Met die voorskrif wat hy ontvang het, het ons die hospitaal drie keer gebel, maar die dokter het gesê hy moet nog water en ’n ekstra pynpil drink. Hoe meer water hy gedrink het, hoe erger het die pyn geword. Ná die vierde keer wat ons gebel het, was die aanddokter aan diens en sy het gesê hy moet weer inkom. Sy het bloedtoetse laat doen en hom vir ’n infeksievlak-toets en CT-skandering gestuur, wat bepaal het dat hy nierstene het.”
Die vrou is dankbaar vir dié dokter wat wel ’n akkurate diagnose kon maak. Sy meen dit is nie die eerste keer dat hulle sulke diens by die hospitaal ontvang nie en voel al die pyn en ongemak kon verhoed gewees het indien die regte diagnose en behandeling die eerste keer gedoen is.
Volgens die inwoner is daar geen kommunikasie onder die mediese personeel nie en met die skuif teater toe, was daar geen inligting in sy lêer nie. Wat ook skokkend was vir die inwoner en haar man was hoe hardhandig die personeel hom hanteer het. “Hy het gevra vir hulp, maar is geïgnoreer.”
Vele ander gebeurtenisse tydens haar man se verblyf in die hospitaal het die paartjie ontstel. Die inwoner meen die hospitaal moet aanspreeklikheid neem en ná talle e-posse en oproepe het sy nog geen terugvoer gekry nie. “Die diens wat aan ander pasiënte gelewer is, is ook skrikwekkend. Dit kan nie meer so aangaan nie. Jy betaal duur vir ’n mediese fonds en dít is die diens wat jy kry. Daar is geen spesialiste wat werklike ernstige gevalle kan hanteer nie. Ek was self ’n pasiënt by die staatshospitaal en ek het baie beter diens [daar] gekry,” voeg sy by.
Die inwoner se man is oorgeplaas na Blouberg-hospitaal, waar die nierstene uiteindelik verwyder is.
Maryke Pearson, ’n woordvoerder van die Life Weskus- private hospitaal, sê die hospitaal is bewus van die kommer wat deur die pasiënt geopper is rakende hul onlangse ondervinding by die hospitaal. “Ons is daarop ingestel om hoë standaarde van sorg te handhaaf en om sterk gesondheidsorgverhoudings met ons pasiënte en hul gesinne te behou.
“Om hierdie situasie deeglik op te los, wag ons op ’n formele klagte van die pasiënt. Wanneer ons dit ontvang, sal ons ’n omvattende ondersoek doen om die besonderhede te verstaan ??en sal terugvoer direk aan die pasiënt verskaf – in lyn met ons interne beleide en prosedures,” sê Pearson.
Sy voeg by die hospitaal se fokus bly daarop om pasiëntvertroue te handhaaf deur duidelike kommunikasie, deernisvolle sorg en voortdurende verbetering in dienslewering.