Ontbinde lyk dié van vermiste bejaarde

Die polisie het Donderdagoggend 22 Augustus ’n ontbinde lyk van ’n klipperige koppie in St. Helenabaai af verwyder nadat dit die vorige aand ontdek is.


Die polisie het Donderdagoggend 22 Augustus ’n ontbinde lyk van ’n klipperige koppie in St. Helenabaai af verwyder nadat dit die vorige aand ontdek is.

Iemand het Woensdagaand 21 Augustus op die beendere afgekom tydens die soektog na Romano Fredericks (18), ’n vermiste matriekleerder van die Hoërskool Louwville in Vredenburg.

Die oorskot wat gevind is, behoort aan Johannes Demingo (91) wat op 7 Maart 2020 spoorloos uit Laingville verdwyn het.

Sy familie het hom as vermis aangemeld.

Volgens die Pink Ladies-plakkaat wat uitgereik is om hom te help opspoor, is Demingo destyds die laaste keer omstreeks 15:30 gesien toe hy sy huis in Kalpieklapiestraat verlaat het.

Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder vir die Weskus-polisie, het sy familie hom uitgeken aan die klere wat by die oorskot gekry is – ’n donkergroen trui, liggroen langbroek, swart tekkies en ’n swart pet.

Die polisie wou nie bespiegel of die ondersoek wat ná die ontdekking van Demingo se oorskot begin is, moontlik later na ’n moorddossier verander gaan word nie. Die beendere is op ’n plek gekry wat Demingo vermoedelik nie op sy eie sou kon bereik nie. Hy het ’n baie klein liggaamsbou gehad.

Die klipperige gebied waarin Demingo se oorskot gekry is, het ook die forensiese span se taak om dit te verwyder, bemoeilik.

Helfrich het gesê die polisie wag steeds op die uitslag van DNS-toetse en die lykskouingsverslag om die amptelike oorsaak van sy dood te kan bekendmaak.

Intussen word Fredericks reeds 26 dae vermis nadat hy op Saterdag 3 Augustus in Velddrif gaan rugby kyk en by ’n vriendin gaan kuier het.

Die polisie het al verskeie gebiede tussen Velddrif en Vredenburg te voet en met behulp van hommeltuie en die honde-eenheid deursoek vir enige teken van Fredericks, maar dit het niks opgelewer nie.

Die berede eenheid het ook verlede week gesoek, maar ook húl soektog het geen nuwe leidrade opgelewer nie.

You need to be Logged In to leave a comment.