‘Ons sit g’n pille in tjips’

Die peuselpakkiebedryf in die Weskus word verlam deur gerugte en sake wat by die polisie aangemeld word oor “pille” wat na bewering in peuselpakkies met tjips, pretzels en koekies gekry is.


Die peuselpakkiebedryf in die Weskus word verlam deur gerugte en sake wat by die polisie aangemeld word oor “pille” wat na bewering in peuselpakkies met tjips, pretzels en koekies gekry is.

Vervaardigers met wie Weslander gepraat het, beskryf dit as ’n “politieke veldtog” wat eintlik teen buitelandse spazawinkel-eienaars gemik is.

Mense in Vredenburg, St. Helenabaai, Hopefield en Elandsbaai is erg die josie in nadat hul kinders na bewering pakkies tjips met pille in gekoop het.

Volgens kapt. Tania Helfrich, die Weskus-polisiewoordvoerder, is altesaam vier gevalle van pille in peuselpakkies in Vredenburg, St. Helenabaai, Hopefield en Elandsbaai die afgelope tyd aangemeld. Dié pille is vir forensiese ontleding weggestuur.

Daar is egter geen voorvalle aangemeld waarin kinders vergiftig is of van die pille ingekry het nie.

Verskeie soorte peuselhappies van sowat tien verskillende vervaardigers word uitgewys in foto’s en op video’s wat wyd op sosiale media versprei is.

Die vervaardigers betwis egter die egtheid van die inhoud. Hulle is dit eens dat geen pil eerstens die geoutomatiseerde vervaardigingsproses met hoë temperature van 200 °C sal kan deurstaan nie. Tweedens sal dit, selfs al is dit ná aflewering by die pakkies gevoeg, duidelik wys as dit in ’n pakkie rondgeskud is en die kleursels, geursels en olie sal ook enige pil beskadig. Die pille op die sosialemediaplasings lyk ooglopend nog onbeskadig.

“Dit is ’n politiek gedrewe veldtog gemik teen buitelanders wat meestal die spazawinkels op die platteland besit. Dis afpersing,” meen Riaan Miggel, bedryfsbestuurder van SUZ Food Branch in Pretoria en Kaapstad. Van hul produkte word ook hierby betrek.

As Vredenburg-boorling van Pretoria was Miggel onmiddellik op die vliegtuig toe hy van die foto’s en video’s te siene kry. “Dit is politieke propaganda, want hoe is dit moontlik dat tien verskillende maatskappye se pakkies skielik almal pille kan bevat?”

Miggel meen dit is mense wat die pille saam met die tjips afneem en dan maak asof dit daarin gekry is. “Klante wat werklik iets fout kry met ’n produk, volg die klantediensroete en bel die klantedienslyn. Ons het nog nie ’n enkele klagte oor dié ‘pille’ gekry nie.”

Geen vervaardigers sal volgens Miggel ’n produk maak wat sy grootste klantebasis – kinders – benadeel nie. “In plaas van ons maatskappye te demoraliseer, moet mense eerder dink aan al die werk wat ons skep.”

Volgens Miggel werk byna 1 000 mense by SUZ.

Astrid Bridger en Stuart Henderson van Dragonfly Foods van Montagu, wie se produkte ook betrek word, het ook die Weskus kom besoek om verklarings by die Vredenburg-polisie te kom aflê.

Hulle stem saam dat dit plaaslike werkers is wat die seerste kry weens dié “veldtog” teen buitelandse spazawinkeleienaars. Bykans die helfte van Dragonfly se werkers moes dié week by die huis bly omdat hul produkte geboikot word.

Die hele peuselpakkiebedryf word verlam – ook die verskaffers van verpakkings­materiaal, kleursels, geursels en die maatskappy wat die verspreiding behartig. Dit is veral die BBQ-geursel- peuselpakkies wat betrek word, want dit is glo die gewildste geursel wat by die vervaardigers gekoop word.

Die vervaardigers benadruk dat hulle by streng munisipale en nasionale gesondheidsvoorskrifte moet hou en hul produkte gereeld getoets word. Hulle verseker die publiek hul produkte is veilig.

Henderson meen die veldtog het gewis ’n xenofobiese aanslag.

You need to be Logged In to leave a comment.