Ek het dit al voorheen gesê. Ek sal dit weer sê . . . Suid Afrika is nou maar eenmaal nie ’n vervelige nasie nie. Daar is maar altyd iewers ’n goeie dosis aksie en drama wat hom iewers in hierdie mooi land van ons afspeel. Dis wat ek nou demokrasie in aksie noem. Al die lekker goete wat hier by ons gebeur, laat sommer die aanloop tot die Amerikaanse verkiesing na ’n kinderpartytjie lyk.

Vat nou maar die afgelope maand. Ons het die hele maand die fokus op erfenis-vierings in Suid-Afrika geplaas. Sjoe, en het ons nie vir jou gespog met al die mooi, lekker en alles tussenin nie! Ons demokrasie is stadig besig om sy jong volwasse skoene te verruil vir ’n paar volwasse trappers. Daai trappers, voel dit egter vir my, het so ’n bietjie uittrap nodig, want dis asof dit hier by die tone se kant druk. Hier in Erfenismaand het ons as familie die mooi en minder mooi van onsself raakgesien.

Ons almal was behoorlik in ons noppies met dit wat ons gedeelde sport-erfgoedere vir ons opgedis het. Ons almal kon spoggerig in die straat af loop met daai wennasie-houding. Maar, o wee . . . daar mis onse Manie toe ’n skop en die huis is op horings. Ek weet nie of ons as ’n nasie ooit ’n verloor goed sal kan hanteer nie. Vieslike name is rondgegooi. Iewers val ’n rassistiese aanmerking en net daar besef ek hoe broos hierdie swaar verdiende demokrasie van ons by tye kan wees. Dit lê baie vlak onder die vel en vra net vir ’n geringe voorval om (weer) na vore te tree. Dis sleg en hartseer, maar waar. Meteens besef ons dat daar nog ’n lang pad vir ons as ’n nasie voorlê.

Genadiglik het ons al genoeg soet en suur saam opgeëet dat ons tot die kollektiewe besef gekom het dat dit vir ons beter is om saam te staan as ’n nasie as wat ons mekaar afkraak en weer die roete van verdeeldheid kies. Tussen al die hordes negatiewe stemme oor ’n skop wat nie die paal gehaal het nie, het die nugter volwasse stemme kragtiger deurgekom en ons almal net daardie rustigheid kom bied dat ons demokrasie waarlik besig is om wasdom te bereik. Natuurlik kort ons nog daai nasionale gesprek waar ons almal die geleentheid kan kry om ons hartsgoed voor mekaar te ontbloot, want as ons dit nie doen nie, sal ons vir altyd slawe wees van ons hartseer verlede.

Dis ook asof die ekstra lang winter ons daaraan herinner het. Ek het so lekker gelag vir die een persoon wat die ander dag met ’n alte skerp grappie op sosiale media te voorskyn kom. “Wat gaan met die weer aan? Dis nes ’n meisie wat afgesê is. Jy dink sy het jou klaar sleggesê, dan kom sy nog ’n keer met een van daais…o ja, en nog ’n ding!” Nou ja, as nasie is dit natuurlik noodsaaklik dat elkeen van ons, op individuele vlak, uitreik na ons mede-landgenote met egtheid en ’n honger om meer van en by mekaar te leer. En hier bedoel ek nie dat jy die duisende hoef te bereik met jou aksies nie. Nee wat, daai een of twee vriende oor die kleurgrens heen is oorgenoeg. Daai intensionele gesprek met jou suster of broer langsaan jou op die kliniek- bankie of in die trein iewers heen is genoeg om daai oomblik van eenwees te bevestig.

Vir nou, mag ons maar die swaar winterjas wegpak. Ons mag maar weer lig en lekker aantrek, want dis lente hier buite. Die son skyn weer soos dit elke lenteseisoen bestem is. Sit jou blommehoed op en gaan stap ’n ent. Groet die natuurskoon en geniet die blommeprag waar jou oog dit ook al mag raaksien. Dans en sing sommer in ’n parkie, al dink almal jy is bietjie van lotjie getik. Jy sal sommer gou sien dat iemand anders in jou plesierige voetspore sal volg, want jou vrolikheid is inderdaad aansteeklik. Sonder om te wag vir politieke leiers is jy besig om die nasionale gesprek te begin net daar waar jy is, want met jou dans, lag en vrolike lewensuitkyk sal kennismaking met die vreemdeling in die parkie sommer soomloos vorm aanneem, want wie wil dan nou nie ’n lekker mens soos jy leer ken nie?

Ek sê weer – ons is nie ’n vervelige nasie nie. Ons gaan soek vir daai oomblik of geleentheid om lig in mekaar se lewe te bring. Ons is soms katterig met mekaar, maar vergewe mekaar sommer gou. Ons het genoeg diversiteit en diepte om met die res van die wêreld te deel. Ingee en opgee is nie deel van ons woordeskat nie, want die Afrika-son, landskap en die dreun van die tromme is in ons DNS.

Dis heerlike lente, die winter is verby. Komaan, kom ons gebruik daai lekka lente flava om mekaar daaraan te herinner dat ons op individuele maar ook kollektiewe vlak wenners is. Laat staan daai suurknol-gedagtes en wys jou blommekant. Geniet die lente en al die mooi wat daarmee saamgaan.

You need to be Logged In to leave a comment.