Ouers van matrikulante by die Hoërskool Piketberg het self ‘n geleentheid gereël sodat alle matrikulante hul uitstapdag saam kon vier.

Een van die groot oomblikke in matrikulante se lewe het vir leerders van die Hoërskool Piketberg amper nie ‘n werklikheid geword nie.

Volgens ouers is die leerders van hul matriekuitstapdag ontneem nadat ‘n aantal leerders die skoolgrond op Maandag 29 September te vroeg verlaat het nadat hulle daar was om hul nasionale seniorsertifikaat-briewe (NSS) te ontvang.

Volgens een ouer het die skoolhoof op WhatsApp gekommunikeer dat die uitstapdag weens die leerders se optrede gekanseleer is.

“My kind het gesê die leerders het nie veel op daardie dag gedoen nie en net rondgeloop terwyl hulle vir die onderwysers gewag het. Party was nog besig om aan die rekordeksamen te merk.”

Volgens haar was daar geen kommunikasie van die skool se kant af dat die kinders die hele dag daar moes bly nie. Daar is glo slegs gekommunikeer dat leerders Maandag daar moet wees vir NSS-briewe, wat hulle vroegoggend gekry het.

Volgens dié ouer is die uitstapdag vir Maandag 13 Oktober beplan, maar weens die kansellasie is slegs leerders met ‘n aanvaarbare verskoning oor die vroeg huis toe gaan na ‘n uitstapontbyt genooi.

“Ek voel dat leerders se 12 jaar of selfs vyf jaar in die skool nou niks beteken nie. Die skoolhoof het die hele jaar niks aan die matrieks se dissipline gedoen nie, en nou wil sy hulle straf? Waar lé die probleem?”

Ouers het ‘n spesiale Uitstapdag vir die leerders gereël.

Nog ‘n ouer bevraagteken die prosedure wat gevolg is. “Daar bestaan ‘n ding soos ‘n gedragskode en almal moet daardeur beskerm word. Ons het nooit gesê dit wat die kinders gedoen het, was reg nie, maar hierdie is die hoogste en die ergste straf wat met ‘n matrikulant kan gebeur. Hulle wag al vir 12 jaar op hierdie oomblik. Dit is ‘n groot oomblik wat met almal gedeel moet word, want daar is sibbe wat deel wil wees van hul ouer broer of suster se afskeid, asook vriende.”

Nog ‘n ouer meen die besluit toon dat die skool sy swakste skoolhoof nog het en dat dit al heeljaar so gaan.

“Die matriekafskeid is deur ouers gereël en sy het ook die datum verskuif. Dis die kinders se skooljaar en hul byeenkoms, nie die skoolhoof s’n nie.

“Die skoolhoof hou vir agt kinders ‘n uitstap en ons ouers vir die ander 60.

“Sy verbied hulle om die onderwysers te groet en dié week moes prysuitdeling wees, waarvan ons steeds niks gehoor het nie.”

Met die alternatiewe opsie van die uitstapontbyt het baie leerders die uitnodiging van die hand gewys – juis omdat nie almal by ‘n oomblik wat hulle met hul geliefdes, mede-matrikulante, vriende en die res van die skool wou deel, betrokke was nie.

Ouers het wel voortgegaan om iets spesiaal vir die leerders te reël, waar hulle die geleentheid gehad het om die oom- blik as ‘n hele groep saam te vier.

Volgens Millicent Merton, ‘n woord-

voerder vir die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD), moet gr.12-leerders skool tot die laaste amptelike skooldag voor die eksamens bywoon.

“Ons moedig ouers aan om te verseker dat hul kinders hieraan voldoen. Daar is steeds kritieke kurrikulumkwessies om te hersien – veral ná die September-

proefeksamens. Afskeidsseremonies is ook nie ‘n reg nie, maar ‘n voorreg, en is nie deel van die formele WKOD-program nie.” Ouers meen steeds dit is hartseer dat leerders een van hul laaste geleent- hede op só ‘n manier moes ervaar.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 13 November 2025
    Weslander E-Edition – 13 November 2025