Ouers van leerders by Longacres Privaatskool het hul ongelukkigheid uitgespreek oor die soort behandeling wat hul kinders van ‘n onderwyser by die skool ontvang. Ouers sê hulle het al verskeie kere na die skool uitgereik, maar geen aksie is nog geneem nie.
Volgens die ouers is daar ernstige gerugte dat die onderwyser geen formeleopleiding of kwalifikasies het om as ‘n onderwyser op te tree nie en dat die manier waarop die kinders hanteer word, nie in lyn is met hoe onderwysers moet optree nie. Nog ‘n kwessie wat pla is dat die genoemde onderwyser glo CCTV-beeldmateriaal misbruik om na weke terug se materiaal te kyk en dan daarvolgens strafdebiete aan te teken vir klein, nie-ernstige oortredings. Ouers meen ook die installering van die CCTV- kameras is sonder enige toestemming of bespreking met hulle gedoen.
Wat vir die ouers nog meer kommerwekkend is, is dat hulle verneem vrae en antwoorde vir eksamenvraestelle is met leerders gedeel, maar is later weer verwyder. Hierdie is deur bewyse van skermgrepe deur die leerders self met hul ouers gedeel.
Een ouer uit ‘n groep van minstens vier, wat hul ongelukkigheid oor die situasie uitgespreek het, het met Weslander gedeel dat verskeie pogings aangewend is om hierdie bekommernisse met die skoolhoof te deel. Weslander is wel bewus van nog ouers wat hul stem by ander gevoeg het oor die situasie wat hom glo tans by die skool afspeel.
“Ten spyte van ons pogings om ‘n oplossing te soek, word ons kinders steeds op ‘n manier behandel wat hul selfbeeld ondermyn en ‘n atmosfeer van angs en wrok skep, veral gedurende hul laaste jaar, wat veronderstel is om onvergeetlik en vol positiewe ervarings te wees.
“Ons voel dat hierdie leierskapstyl nie bevorderlik is vir ‘n ondersteunende en regverdige omgewing vir leer nie. Ons kinders verdien om gerespekteer en gewaardeer te voel, nie dopgehou en gestraf te word op grond van elke beweging nie. Ons is diep bekommerd oor die blywende impak wat dit op hul geestelike en emosionele welstand kan hê, veral aan die einde van hul akademiese reis.”
Ouers voeg ook by dat hul kinders deur die onderwyser geviktimiseer en uitgesonder word juis omdat hul ouers op aksie aandring. ‘n Gr.12-leerder het in ‘n brief gesê sy het haar leerlingraadbalkie probeer ingee juis oor die optredes van die onderwyser.
“Dit is vir my skrikwekkend dat sulke drastiese stappe deur ouers en leerders geneem moet word om van ‘n onderwyser, wat die hele skool se naam en reputasie vernietig, ontslae te raak. In my 10 jaar wat ek by die skool is en met als wat ek ervaar het, het ek nog nooit ‘n onderwyser ontmoet wat leerders so afkraak, vreugde daarin vind om vals stories te verprei, mense manipuleer, viktimiseer en boelie nie,” sê sy.
Volgens die skoolhoof, Edmund Barkhuysen, neem die skool kennis van die klagtes en bewerings, wat die skool in ‘n uiters ernstige lig beskou. “Dit is deurgaans die skool se hoofdoel om in die beste belang van ieder en elke leerder op te tree. Die skool is in die proses om alle bewerings en klagtes te ondersoek en sal daadwerklik optree indien dit blyk gegrond te wees.”
Barkhuysen meen die ondersoek sal so gou as moontlik afgehandel word. Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement het by wyse van ‘n woordvoerder gesê daar is baie spesifieke dinge wat verband hou met onafhanklike skole waaroor die provinsiale onderwysdepartemente oorsig het en die betrokke kwessie terug na die skool vir kommentaar verwys.