Klipgooiery, vure in die strate en beskadigde infrastruktuur.

Darling-inwoners het Woensdagoggend te midde van dié kommerwekkende situasie wakker geword.

Volgens sers. Johnatan Filander, die woordvoerder van Darling-polisie, is inwoners net ná middernag Woensdagoggend 24 Augustus met luidsprekers in hul woonbuurte wakker gemaak om by die betoging te kom aansluit.

Filander sê betogers het in die donker oggendure bande in die strate gebrand, private- en polisie-voertuie met klippe bestook, huiswinkels geplunder en infrastruktuur gevandaliseer.

Die dorp se ingange en uitgange is almal versper en talle mense wat Woensdagoggend onderweg na hul werksplekke was, is deur betogers geïntimideer en moes terugdraai huis toe. Sake-ondernemings op Darling het vir die dag gesluit.

Darling Romery se vragmotors kon nie die dorp verlaat nie en volgens Filander het die maatskappy dreigboodskappe ontvang dat hul voertuie beskadig sal word sou hulle probeer om uit Darling op die pad te kom.

Drie werkers by die romery het anoniem Woensdagoggend hierdie petalje aan Weslander bevestig.

’n Vrou wat vroegoggend haar werker gaan oplaai het se voertuig het ook deurgeloop en Filander sê die werker het te voet gevlug om van die gevaar af weg te kom.

Teen 12:00 gistermiddag het die polisie nog nie geweet hoeveel slagoffers daar is nie, aangesien niemand die polisiekantoor kon bereik om klagtes te kom indien nie.

Die metro-ambulansdiens en metro-polisie is na Darling se polisiekantoor gebring vir veiligheid.

Die Congress of South African Trade Unions (Cosatu) het ’n landswye betoging vir Woensdag beplan met die doel om die “land tot stilstand te bring”, maar volgens Filander is die betoging in Darling ook deur ’n plaaslike agenda, onder meer munisipale dienslewering en behuisingskwessies, gedryf.

Polisieversterkings van ander dorpe, die honde-eenheid en die openbare orde-eenheid van die polisie is Woensdag­oggend na Darling ontbied om te kom help waarna skote onder die klipgooiers geklap het.

Teen druktyd was die paaie na Darling steeds versper en het die polisie motoriste vir hul veiligheid afgeraai om die dorp te probeer binnekom.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 4 December 2025
    Weslander E-Edition – 4 December 2025

Gift this article