Talle motoriste wat daagliks die pad tussen Langebaan en Saldanha (MR559) moet gebruik, het die afgelope paar weke by Weslander oor dié “onveilige” pad gekla.
Die departement van infrastruktuur was onder die indruk dat die nodige lyne op die pad geverf is nadat instandhoudingswerk die laaste keer aan die pad gedoen is.
Maar die nodige merke op die pad om vir motoriste aan te dui presies waar hulle moet ry, is nooit aangebring nie.
Weslander-personeel het self ervaar hoe verwarrend dit is om in die nag van die drierigtingkruising na Tronox gebruik te maak.
Motoriste kla veral oor die swak sig in dikwels reënerige en mistige toestande.
Volgens Jandre Bakker, ’n woordvoerder vir die departement van infrastruktuur, het die goedgekeurde program aangedui dat die padmerke op die MR559 voltooi is, maar die “skedule is tans agter”. Dit moes al 8 Augustus voltooi gewees het.
Bakker het gesê die projekspan durf tans die projekvertragings deur die “toepaslike kontraktuele prosesse” aan. Hy het verseker dat die departement na alternatiewe meganismes kyk om te verseker dat die nodige padmerke so gou as moontlik aangebring word.