‘n Plasing van foto’s van ‘n botsing tussen twee voertuie op die “Kleinbruggie” voor die Carinus-brug oor die Bergrivier in Velddrif die afgelope Sondag (2 November) het hewige reaksie ontlok.
Die Laaiplek-polisie is nog besig om die voorval ondersoek.
Die blyk dat die bestuurder van die rooi bakkie om die een of ander rede beheer verloor en voor aankomende verkeer ingeswaai het. ‘n Silwer Opel Corsa se bestuurder moes na regs uitswaai om ‘n botsing te vermy, maar die motor is op die linkerkant getref.
Die bakkie het deur die sement-relings van die brug gebars en afgetuimel. Twee insittendes is beseer.

Weslander was genoop om ‘n plasing te maak oor geakkrediteerde media se reg om wel foto’s van ongelukke sonder toestemming te plaas – nadat mense daaroor gekla het.
Lesers word net weer daaraan herinner dat Weslander die reg het om foto’s van ongelukstonele – insluitend die betrokke voertuie – te publiseer.
Dié reg word verskans onder Suid-Afrika se Grondwet wat persvryheid waarborg en geakkrediteerde media die reg gee om inligting te ontvang en te deel. Daarom mag Weslander beelde van ongelukstonele publiseer wanneer die voorval nuuswaardig en in openbare belang is.
Indien ‘n ongeluk in ‘n openbare ruimte gebeur, verbied geen wet die plasing van foto’s van die toneel of betrokke voertuie nie – en niemand mag ons keer om dit te doen nie.
Vooraf toestemming word ook nie benodig nie. Weslander sal egter altyd poog om verantwoordelik en slegs in openbare belang op te tree.
Op daardie noot – Weslander volg ook die Perskode van die Persraad van Suid-Afrika en vermy die publikasie van grafiese foto’s wat ernstige beserings uitbeeld.






You must be logged in to post a comment.