Karitas Spesiale Skool se adjunkhoof, Lunelle Jafthas.Foto:


Om elke dag met kinders te werk, is sowaar ’n passie vir Karitas Spesiale skool se waarnemende adjunkhoof, Lunelle Jefthas.

Jefthas het in 2005 by Noordhoek Primêr as ’n ongekwalifiseerde onderwyseres in ’n beheerliggaampos begin. Sy het die besluit geneem om verder te studeer om ’n kwalifikasie in onderwys te verwerf.

Jefthas het toe na Vredenburg verhuis waar sy by Panorama Primêr vir ses maande as ’n graad 2-onderwyseres gewerk het. Sy het vinnig die leer geklim en is na Karitas Spesiale Skool geskuif, waar sy as departementshoof aangestel is en tans al langer as twee jaar as waarnemende adjunkhoof dien.

Jefthas sê sy is eerstens ’n grondslagonderwyser, maar het in leerondersteuning gespesialiseer.

“Nou is ek ’n spesialis in leerondersteuning en opvoeding van kinders met spesiale leerbehoeftes,” vertel sy.

In haar rol as adjunkhoof bestuur sy die meeste van die skool se bestuurfunksies soos geldsake, werk met die gesondheidsdiens, personeel en meer.

Jefthas dien ook in ander komitees wat sy moet bestuur.

“My grootwordjare en my hele lewe het my voorberei om ’n sagte plek in my hart te hê vir kinders wat in moeilike omstandighede grootword. Om elke kind se naam en sy of haar omstandighede te ken en ’n geestelike konneksie met elke siel te maak, is wat ek wil doen – om elke dag probeer om ’n verskil in ’n kind (se lewe) te maak.”

Die beste deel van Jefthas se werk, sê sy, is die liefde wat die kinders vir haar het en die oulike briewe en lekkers wat sy ontvang, asook die briewe wat sy van ouers ontvang net om dankie te sê.

Ander hoogtepunte sluit in dat sy tweede in die streek by die Nasionale Onderwyserstoekennings in 2018 geëindig het en ook by Solidariteit vir juffrou van die jaar benoem is.

“Ek sal ander aanraai om onderwys te gaan studeer as hulle ’n verskil in kinders se lewe wil maak. Ek kan getuig van die gevoel van bevrediging as jy sien hoe jy ’n verskil in ’n kind se lewe maak.

“Dit moet ’n roeping wees, nie net ’n werk van nege tot vyf nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 18 December 2025
    Weslander E-Edition – 18 December 2025

Gift this article